Nuus 08:00
BULLETIN 2 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nuwe bewyse het na vore gekom in die Digital Vibes-korrupsieskandaal
# Not in My Name eis geregtigheid vir ‘n 14-jarige meisie van die Prinshof Skool vir Blindes
# En twaalf-duisend mense word deur die aardbewing in Afghanistan geraak
# Nuwe inligting het aan die lig gekom in die voortslepende Digital Vibes-korrupsiesaak van meer as 150-miljoen-rand se vermeende onregmatige kontrakte wat die Departement van Gesondheid toegeken het. Die Spesiale Tribunaal het die Spesiale Ondersoekeenheid toestemming gegee om die nuwe inligting in die saak teen Digital Vibes en talle ander maatskappye en direkteure te gebruik. Die Ondersoekeenheid se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê sonder die nuwe bewyse kan belangrike besonderhede oor die manier waarop staatsgeld deur vals saketransaksies gewas is, verlore gaan:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Staatsdiens en Administrasie het kommer uitgespreek oor berigte van ‘n terugbetaling van ʼn spookkontrak van die Agentskap vir Administrasie van Regeringspensioene. Volgens berigte het die agentskap 36-miljoen-rand vooruitbetaal aan Shula Developers, wat hulle na bewering as die verhuurder voorgedoen het, om ʼn gebou as hoofkantoor te huur. Shula Developers het die geld terugbetaal, maar versuim om rente van vier-miljoen-rand ook terug te gee. Die komitee wil vasstel of die ooreenkoms tussen die agentskap en Shula Developers moontlik korrup was.
# Not In My Name International eis dat ʼn onderwyser by die Prinshof Skool vir Blindes in Pretoria afgedank word. Dit volg na bewerings dat ʼn onderwyser in 2024 ʼn 14-jarige leerder seksueel aangerand het. Die beweging het gister ʼn vreedsame betoging buite die skool gehou. Not In My Name International se woordvoerder, Themba Masango, sê die skool moet binne 14 dae teen die onderwyser optree:
# Meer as 800 mense is dood en minstens tweeduisend beseer in die aardbewing van 6.0 wat Afghanistan se bergagtige oostelike grensgebied Maandag getref het. Die aardbewing was op ‘n diepte van slegs agt kilometer, wat dit meer vernietigend maak. Die Nangarhar- en Kunar-provinsies is die ergste getref, maar skuddings is in aangrensende provinsies, asook in Kaboel en in die naburige Pakistanse hoofstad Islamabad, gevoel. Die VN-agentskap Ocha sê besonderhede oor die volle omvang van die vernietiging is nog nie bekend gemaak nie, maar hy glo soveel as 12-duisend mense is geraak.
# Tennis: Die verdedigende kampioen Jannik Sinner is deur na die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope. Die Italianer het Alexander Bublik van Kazakstan geklop en speel volgende teen sy landgenoot Lorenzo Musetti. Die Kanadees Felix Auger-Aliassime het met Andrey Rublev van Rusland afgereken, terwyl Alex de Minaur van Australië die Switserse kwalifiseerder Leandro Riedi geklop het. Wat die vroue betref het die tweemalige kampioen van Japan, Naomi Osaka, die Amerikaner Coco Gauff uitgeskakel en gaan sy vir die eerste keer sedert 2021 weer in Grand Slam-kwarteindwedstryd speel. Iga Swiatek van Pole het die Rus Ekaterina Alexandrova verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62 sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-82 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-144 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-493-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….