Nuus 08:00
BULLETIN 30 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Amerikaanse hof beslis dat baie van Donald Trump se tariewe onwettig is
# Die MK-party waarsku oor die verkryging van die tender deur Hitachi Energy
# En rugby: Die Springbok-vroue maak taktiese veranderinge voor hul Italië-stryd
# ‘n Amerikaanse appèlhof het beslis dat die meeste van president Donald Trump se tariewe onwettig is, wat ‘n moontlike regskonfrontasie kan veroorsaak en sy buitelandse beleidsagenda omver kan werp. In ‘n 7-4-beslissing het die Federale Amerikaanse Appèlhof Trump se argument verwerp dat die tariewe toegelaat word kragtens ‘n noodwet op ekonomiese magte en verklaar dit is ongeldig en word as strydig met die wet beskou. Die hof sê die instelling van tariewe is nie in die president se mandaat nie, maar ‘n kern-aktiwiteit van die Kongres. Die uitspraak sal eers op 14 Oktober in werking tree en die saak kan dus nog voor die Hooggeregshof te dien.
# Die DA sê die voormalige uitvoerende hoof van die Johannesburg Property Company, Helen Botes, moet steeds aanspreeklik gehou word, al het die Nasionale Vervolgingsgesag besluit om haar nie te vervolg nie. Die party sê die Spesiale Ondersoekeenheid se bevindings oor korrupsie is geïgnoreer en het in ‘n skrywe aan die Parlement ‘n volledige ondersoek geëis. Die DA-lid, Belinda Kayser-Echeozonjoku, sê geregtigheid moet geskied wanneer amptenare openbare fondse misbruik en beloof om die gesteelde geld terug te kry en te verseker niemand is bo die wet verhewe nie:
# Die MK-party sê die Stad Kaapstad se besluit om ‘n groot transformator-tender aan Hitachi Energy toe te ken, is uiters kommerwekkend. Die party het kommer uitgespreek oor die nakoming van verkrygingswette, billikheid met betrekking tot swart ekonomiese bemagtiging, en behoorlike omsigtigheid, gegewe Hitachi se vorige wangedrag. Die party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê parlementêre vrae is ingedien om duidelikheid te bekom oor moontlike onreëlmatighede en om te hoor of die tender gekanselleer kan word indien daar bevind word dat dit onregmatig is.
# SANParke het bevestig die tweede fase van die heropening van Silwermyn-hek 1 en die meeste roetes in die Silwermyn-gebied sal vanaf 1 September 2025 begin. Dit volg ná die heropening van Silwermyn-hek 2 en dele van Tokai in Julie, nadat brande vroeër vanjaar twee-duisend-800 hektaar beskadig het. Die Bo-Tokai gebied, insluitend vlakke 4 en 5, sal ook oopgestel word. Sekere roetes bly egter gesluit vir veiligheid en rehabilitasie. SANParke versoek besoekers om die inligtingsborde en veldwagters se instruksies na te kom.
# EN ten slotte rugbynuus:
# Die Vroue-Wêreldbekertoernooi hervat vandag in Engeland wanneer Kanada en Wallis mekaar pak aan die begin van die tweede ronde. Skotland speel teen Fidji, die gasvroue teen Samoa en Amerika teen Australië. Die Springbok-Vroue speel môre teen Italië na hulle oortuigende oorwinning oor Brasilië in hulle eerste wedstryd, terwyl Ierland en Spanje sal kragte meet. Nieu-Seeland kom teen Japan te staan en Frankryk teen Brasilië. Die groepsafdeling eindig volgende naweek, gevolg deur die uitspeel-wedstryde.
En steeds by die Wêreldbeker. Die Springbok-vroueafrigter Swys de Bruin het die groep vir Sondag se wedstryd teen Italië in York aangepas. Nadine Roos sal op heelagter begin, met Unam Tose op skrumskakel, maar die voorspelers bly onveranderd. Chumisa Qawe en Eloise Webb sal hul toernooi-debuut maak. De Bruin sê die groep mik vir ‘n oorwinning om die top-tien-wêreldranglys te haal en ‘n uitspeelplek te verseker:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….