Nuus 08:00
BULLETIN 9 Julie 8 vm
Goeiemôre Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA is bekommerd oor die uitwerking van die Amerikaanse tarief
# Tax Justice SA sê die onwettige sigarethandel het chaotiese vlakke bereik
# En tennis: Alcaraz en Sabalenka is deur na die Wimbledon-halfeindronde
# Die landbou-organisasie TLU SA het kommer uitgespreek oor Amerika se invoertariewe van 30-persent op Suid-Afrikaanse goedere wat op 1 Augustus ingestel word. Die Amerikaanse mark, met ondersteuning van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, het in 2024 vier-persent van die land se totale uitvoere uitgemaak. Bennie van Zyl van TLU SA sê hierdie tarief sal ‘n rampspoedige uitwerking op die landboubedryf hê, wat werksverliese sal insluit:
# Tax Justice South Africa waarsku die onwettige sigaretmark in Suid-Afrika is buite beheer. ‘n Nuwe IPSOS-studie toon onwettige sigarette word nou in meer as 76-persent van winkels verkoop, byna drie keer meer as drie jaar gelede. Handelsmerke van die Gold Leaf Tobacco Corporation wat by die Gold Mafia-skandaal betrokke was, oorheers tans die mark. Die stigter van Tax Justice SA, Yusuf Abramjee, bepleit dringende optrede deur die Inkomstediens, die Valke en die Parlement, met ongeveer 250-miljoen-rand wat daagliks weens die onwettige ekonomie geplunder word.
# Die nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, het gisteraand ʼn verrassingsbesoek aan die Kgosi Mampuru C-Max-gevangenis in Pretoria gebring. Tydens die klopjag is smokkelgoedere soos selfone en crystal meth by gevangenes gevind. Die departement het Sondag ook ʼn klopjag by die Baviaanspoort-gevangenis uitgevoer. Thobakgale sê hulle verwyder die onwettige artikels maar die klopjagte se hoofdoel is om te keer dat dit in die eerste plek by gevangenes uitkom:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy dink nie hulle militêre veldtog in Gaza is afgehandel nie, maar onderhandelaars werk beslis aan ʼn skietstilstandooreenkoms. Dit volg nadat president Donald Trump se gesant in die Midde-Ooste, Steve Witkoff, gesê het hy hoop hulle bereik hierdie week ʼn tydelike skietstilstand van 60 dae. Netanyahu het die media by Capitol Hill toegespreek na ʼn ontmoeting met die Republikeinse Huis van Verteenwoordigers se speaker, Mike Johnson, en gesê Gaza mag nie langer ʼn bedreiging vir Israel wees nie:
# Tennis: Die tweede gekeurde Carlos Alcaraz se poging vir ʼn derde agtereenvolgende Wimbledon-titel is op dreef nadat hy die Brit, Cameron Norrie, in die kwarteindronde verslaan het. Die Spanjaard kom in die halfeindronde teen Taylor Fritz van Amerika te staan wat met die Rus, Karen Khachanov, afgereken het. In die vroueafdeling het die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, die Duitser Laura Siegemund naelskraaps verslaan om die halfeindronde te haal. Amanda Anisimova van Amerika het die Rus, Anastasia Pavlyuchenkova, geklop om haar eerste Grand Slam-halfeindronde in ses jaar te bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78 sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 24-rand-12 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-454-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-291-dollar-86 sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….