Nuus 08:00
BULLETIN 6 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Forum for South Africa vra die president om die Menseregtekommissie te ondersoek
# Eskom sê dieselverbruik sal afneem met meer eenhede wat diens hervat
# En rugby: Die Bokke wen op Loftus, maar het baie werk om te doen
# Die Forum for South Africa het president Cyril Ramaphosa versoek om volledig ondersoek in te stel na die werksaamhede van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie voordat dinge handuit ruk. Forumleier Tebogo Mashilompane sê vir jare het baie gemeenskappe regoor die land geen drinkwater gehad nie. Dit is ‘n skending van menseregte, maar daar is geen bestendige poging van die kommissie om dit reg te stel nie. Hy sê dit blyk die kommissie is meer bekommerd oor kwessies rakende buitelandse burgers:
# Eskom sê dieselverbruik sal afneem namate meer eenhede indiens gestel word ná langtermyn herstelwerk en die vermindering van onderhoud, wat die opwekkingsvermoë sal verhoog. Die Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê die kragverskaffer het sedert die begin van die jaar 4,85-miljard-rand bestee aan brandstof vir die oopsiklus-gasturbinevloot, wat meer as 824 gigawatt-uur opwek. Sy sê dit is hoër as die 471,18 gigawatt-uur vir dieselfde tydperk verlede jaar:
# Honderde reddingswerkers is ontplooi om na oorlewendes in sentraal-Texas te soek, nadat 50 mense, insluitend 15 kinders, in kitsvloede dood is. Terwyl die soektog ‘n tweede nag voortgaan, sê amptenare 27 kinders word steeds vermis van ‘n Christelike jeugkamp vir meisies langs die rivier. Baie van die vermiste meisies is jonger as 12. Tientalle kampeerders wat die naweek van 4 Julie vakansie gehou het, word ook vermis. Sowat 850 mense is tot dusver gered. Die goewerneur van Texas, Greg Abbott, het intussen ‘n omvattende rampverklaring onderteken om soekpogings te versterk.
# Sportnuus:
# Kanovaart: Die 47-jarige Hank McGregor het gister sy sterk voorsprong van 10 minute behou en so sy ongelooflike 14de Bergrivier-kanomarathon gewen nadat hy die vierdaagse marathon in Velddrif voltooi het. Die 53-jarige Robbie Herreveld was tweede, wat die gekombineerde ouderdom van die twee top-roeiers ‘n verstommende 100 jaar maak. Die KwaZulu-Natalse roeier Jenna Nisbett het tweede gekom in die laaste skof, maar was met ‘n ses minute voorsprong die algehele wenner van die vrouewedren. Nix Birkett van Oos-Londen wat die eerste en laaste skof gewen het, was algeheel tweede.
# Rugby: Die Springbokke het gisteraand hul eerste toets van die 2025-seisoen gewen in ‘n wisselvallige vertoning teen Italië op Loftus Versfeld. Rassie Erasmus se krygers het ses drieë gedruk, met ‘n eindtelling van 42-24 in hul guns. Die Bokke was rustyd 28-3 voor ná drieë deur Jesse Kriel, Kurt Lee Arendse en Morné van den Berg. Vincent Koch en Marco van Staden het nog twee drieë in die tweede helfte bygevoeg, terwyl Handrè Pollard al ses verdoel het. Manuel Zuliani, Pablo Dimcheff en Niccolò Cannone het vir Italië drieë gedruk, met Giacomo Da Re wat die skopwerk gedoen het.
# En ten slotte: Die Universiteit van Pretoria doen ‘n beroep op alumni, vennote en die breër publiek om solidariteit te betoon met studente wat honger ly en finansiële probleme ondervind deur UP Giving Month te ondersteun. As deel van vanjaar se veldtog werk die universiteit saam met die Vodacom Bulle en die Bulle Daisies om hongersnood en finansiële druk onder studente in Suid-Afrika te bestry. Die universiteit sê die vennootskap is daarop gemik om hierdie dringende uitdagings onder die soeklig te plaas en die breër publiek uit te nooi om betrokke te raak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….