Nuus 08:00
BULLETIN 2 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika gaan begin met die heel eerste inenting van pluimvee
# Die VF Plus is bly dat die Zondo-kommissie uiteindelik vrugte afwerp
# En Israel stem in tot ‘n 60-dae lange skietstilstand in Gaza
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het die land se heel eerste pluimvee-inentingsveldtog aangekondig as proaktiewe maatreël teen die uitbreking van voëlgriep. ‘n Inentingspermit is aan Astral Foods toegestaan wat die maatskappy toestemming gee om sowat 200-duisend braaihoenders in te ent. Dis ongeveer 5-persent van al Astral se aanteelhoenders met ‘n geraamde waarde van 35-miljoen-rand. Steenhuisen sê die veldtog is ʼn noodsaaklike stap om immuniteit te versterk en vernietigende ekonomiese verliese te voorkom. In 2023 is miljoene voëls uitgedun wat verskaffers en verbruikers geraak het.
# Die Vryheidsfront Plus sê hy is tevrede dat die bewyse wat by die Zondo-kommissie oor staatskaping ingedien is, uiteindelik vrug dra. Dit volg na die inhegtenisneming van die gewese Transnet-hoofde, Brain Molefe en Siyabonga Game, wat verbind word met vermeende korrupte tenders om in 2014 lokomotiewe aan te koop. Philip van Staden van die VF Plus sê korrupsie het Transnet in sy huidige finansiële krisis laat beland:
# Die deskundige getuie Lisa Vetten sê mag is ingewikkeld en verskuif dinamies binne verhoudings, insluitend in die werksomgewing. Sy getuig voor die regterlike gedragstribunaal in verband met bewerings van seksuele teistering teen die Oos-Kaapse regterpresident, Selby Mbenenge. Vetten beklemtoon hoe mag, selfs binne ’n enkele gesprek, tussen individue kan verskuif. Sy verduidelik dat haar opmerkings oor toepaslike gedrag gegrond is op werksplek-beleid en nie op kulturele kennis nie:
# President Donald Trump sê Israel het ingestem tot ‘n skietstilstand van 60 dae in Gaza. Hy sê op Truth Social hulle werk saam met alle partye om die oorlog te beëindig, maar het nie uitgebrei oor die voorwaardes nie. Hy het bygevoeg Katar en Egipte sal die finale voorstel indien en het hoop uitgespreek dat Hamas dit sal aanvaar. Trump vergader volgens plan volgende week met die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu. Sowat 50 Israelse gyselaars is nog in Gaza en 20 van hulle leef moontlik nog.
# Tennis: Iga Swiatek is deur na die tweede ronde by Wimbledon nadat hy in die eerste ronde met die Rus, Polina Kudermetova, afgereken het. ‘n Aantal vroue is ná verrassende nederlae huis toe gestuur. Die derde gekeurde Amerikaner, Jessica Pegula, het in skoon stelle teen die wêreld-nommer 116 van Italië, Elisabetta Cocciaretto, verloor. Die vyfde gekeurde en Olimpiese kampioen, Zheng Qinwen van China, het teen die Tsjeg, Katerina Siniakova, vasgeval. Die grootste verrassing was die tweede gekeurde Coco Gauff van Amerika wat die knie teen Dayana Yastremska van Oekraïne moes buig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61 sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-131-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….