Nuus 08:00
BULLETIN 1 Julie 8 vm.
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê die herstel van makro-ekonomiese bestendigheid is noodsaaklik
# Die DA gaan vandag ‘n strafregtelike klagte teen minister Nkabane indien
# En Donald Trump se wêreldwye staking van noodhulp kan 14-miljoen sterftes tot gevolg hê
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê dis noodsaaklik om makro-ekonomiese bestendigheid deur omsigtige fiskale en monetêre beleid te herstel. Lamola het ‘n toespraak in Sevilla, Spanje, gelewer by die Tafelronde vir Veelvuldige Belanghebbendes met die tema, Gee nuwe lewe aan Internasionale Ontwikkelingsamewerking. Hy sê beleggersvertroue sal bevorder word deur beter skuldbestuur en samewerking met finansiële instellings om risiko’s te deel en waarborge te verskaf:
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa tree nie op teen ANC-korrupsie in die nasionale uitvoerende gesag nie, maar dié party sal alles in sy vermoë doen om dit te beveg. Die party gaan vandag ʼn strafregtelike klag indien teen die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, omdat sy voor die Onderwys-begrotingsdebat in die Nasionale Raad van Provinsies vir die Parlement gelieg het. Die DA se federale voorsitter, Helen Zille, die party se adjunk-hoofsweep, Baxolile Nodaba, en nasionale woordvoerder Karabo Khakhau gaan die klag by die polisiekantoor in Kaapstad-Sentraal aanhangig maak.
# ‘n Voormalige menslike hulpbronbestuurder by die Nuwe Hoop Skool in Pretoria is tot 12-jaar tronkstraf gevonnis nadat hy die spesiale behoefteskool met meer as ses-miljoen-rand bedrieg het. Die Gespesialiseerde Handelshof in Pretoria het beslis dat Ralton Christopher Fischer elf keer tussen 2018 en 2022 bedrog gepleeg het. Die streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, sê ses jaar van die vonnis is vir vyf jaar opgeskort:
# President Donald Trump se besluit om ‘n groot deel van Amerika se befondsing vir humanitêre hulp wêreldwyd op te skort, kan teen 2030 tot meer as 14-miljoen sterftes lei. Volgens navorsing wat Maandag in die mediese tydskrif The Lancet gepubliseer is, is ‘n derde hiervan kinders. Die verslag het verskyn te midde van tientalle wêreldleiers wat in Sevilla, Spanje vergader om deur die Verenigde Nasies die grootste hulppakket in tien jaar aan te bied. Navorsers skat US-AID se geld het van 2001 tot 2021 altesaam 91-miljoen mense van ‘n gewisse dood gered.
# Sokker: Fluminense van Brasilië het gister in die Klub-Wêreldbeker in Charlotte Inter Milan met 2-0 verslaan en deurgedring na die kwarteindronde. ʼn Kopskoot deur German Cano het Fluminense ʼn vroeë voorsprong gegee met plaasvervanger Hercules wat die oorwinning laat in die tweede helfte beklink het. Fluminense is die tweede Brasiliaanse span wat die laaste agt haal nadat Palmeiras reeds hulle plek in die kwarteindronde bespreek het. Die Colombiaanse vleuel, Jhon Arias wat as Speler van die Wedstryd aangewys is, sê hulle verteenwoordig nie net Fluminense nie, maar ʼn hele vasteland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69 sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-172-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-320-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….