Nuus 08:00
BULLETIN 30 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die DA het ‘n keuse om die regering van nasionale eenheid te verlaat
# Die polisie ondersoek die ontvoering van ‘n nege dae oue baba by ‘n winkelsentrum in Kaapstad
# En rugby: Jean Kleyn moet weens ‘n besering aan die Springbok-groep onttrek
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die DA kan kies om die regering van nasionale eenheid te verlaat. Die DA het vroeër aangekondig hy onttrek hom aan die Nasionale Dialoog en gaan nie vir belangrike besluite rakende die begroting stem nie ná president Cyril Ramaphosa se afdanking van die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Andrew Whitfield. Mbalula sê ‘n mosie van wantroue in die president deur die DA beteken hulle is uit die RNE:
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christen-forum sê intussen hy is geskok deur wat hy noem die DA se skynheiligheid en voortdurende dreigemente oor sy posisie in die regering van nasionale eenheid. Dit volg nadat die DA-leier, John Steenhuisen, vroeër aangekondig het die party gaan nie aan die Nasionale Dialoog deelneem nie. Die forum se president, Marothi Mashashane, sê die RNE kan sonder die DA oorleef:
# Die Wes-Kaapse polisie ondersoek die omstandighede rondom die ontvoering Saterdag van ‘n nege dae oue baba by ʼn winkelsentrum in Kaapstad. Die polisiewoordvoerder, Joseph Swartbooi, sê die kind se ma het hom laas by die Middestad-winkelsentrum in Bellville gesien. Hy sê die ma het sleg gevoel en die kind by ʼn persoon wat by haar was, gelaat terwyl sy badkamer toe gaan:
# Rugby: Die Springbok-slot Jean Kleyn is nie beskikbaar vir die eerste wedstryd van die Castle Lager tuisreeks nie nadat hy Saterdag beseer is in die span se 54-7-sege teen die Barbarians. Kleyn keer terug na die Ierse klub, Munster, om van die besering te herstel. Die Springbokke het weggespring met veldvoorbereiding vir Saterdag se eerste amptelike toets van die seisoen teen Italië. Hulle speel ʼn week later weer teen Italië voor die reeks se laaste wedstryd teen Georgië op 19 Julie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 24-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-494-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-279-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Jeff Bezos en Lauren Sanchez het hul drie dae lange troue in Venesië Saterdagaand afgesluit met ʼn viering by ʼn ou Middeleeuse skeepswerf, Arsenale. Die Amazon-miljardêr en die voormalige joernalis is in ʼn privaat seremonie op die afgesonderde, geskiedkundige eiland, San Giorgio Maggiore, getroud. Venesië se ministerie van Toerisme het beraam die viering sal byna 68-persent van die stad se jaarlikse toerisme-omset in net een naweek inbring. Betogers was egter gekant teen wat hulle beskou as die wêreld se rykstes se oorname van die idilliese Italiaanse eilandstad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….