Nuus 08:00
BULLETIN 28 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van die Misdaadintelligensie en ander gearresteerde offisiere is nog nie geskors nie
# Floyd Shivambu kondig die Mayibuye Nasionale Konsultasiespan aan
# En Donald Trump sê hy sal dit oorweeg om Iran weer aan te val
# Die polisiewoordvoerder Athlenda Mathe het bevestig dat die Misdaadintelligensiehoof, Dumisani Khumalo en ses ander senior polisie-offisiere wat verlede week in hegtenis geneem is, nog nie geskors is nie. Hulle het gister in die Pretoriase Landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met onwettige senior aanstellings in die diens. Mathe sê polisiekommissaris Fannie Masemola wag op ‘n volledige verslag van die Ondersoekdirektoraat voordat hy ‘n besluit neem. Sy sê die Misdaadintelligensie-afdeling is steeds funksioneel en Masemola sal ‘n senior offisier aanstel om die saak intern te ondersoek:
# Die voormalige sekretaris-generaal van die MK-party, Floyd Shivambu, het 65 lede van die Mayibuye Nasionale Konsultasiespan, met 12 lede as uitvoerende gesag, bekend gestel. Shivambu is die nasionale sameroeper, en sê sleutelfigure sluit voormalige ANC-, EFF- en MK-partyleiers in, soos Nolubabalo Mcinga, Luther Libelo, Patrick Sindane, Gabisile Shongwe en Aartsbiskop Stephen Zondo. Shivambu het eenheid, nederigheid, en die verwerping van faksievorming beklemtoon. Hy sê hierdie groep groot name kan moontlik aan die volgende verkiesing deelneem:
Shivambu het intussen ‘n openbare verskoning aan die MK-party se nasionale woordvoerder Nhlamulo Ndhlela uitgereik oor bewerings van dwelmmisbruik. Dit volg nadat die Johannesburgse Hooggeregshof Shivambu gedagvaar het toe hy nie binne 48 uur om verskoning gevra het vir sy bewerings tydens ‘n onlangse eNCA-onderhoud nie. Ndhlela se prokureurs het die uitlatings as lasterlik beskryf. Shivambu het ook die gebruik van dwelms in Suid-Afrika veroordeel:
# Die Oos-Kaapse LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Nonkqubela Pieters, is vandag die gasvrou tydens die Provinsiale Beraad vir Minderjarige Drankgebruik by die Abbotsford Christian Centre in Oos-Londen. Die beraad sal poog om oplossings te vind vir die toenemende krisis rakende minderjarige drankmisbruik, insluitend die kommerwekkende “penne-neer”-partytjies. Belanghebbendes sal tydens die beraad strategies saamwerk, en gemeenskappe bemagtig om alkoholmisbruik onder die jeug te bekamp met oplossingsgedrewe dialoog.
# President Donald Trump het Iran se opperleier, Ali Khamenei, skerp gekritiseer. Trump het gister gesê hy laat vaar planne om sanksies teen Iran op te hef en sal dit oorweeg om Iran weer te bombardeer as Teheran uraan tot kommerwekkende vlakke verryk. Trump het gereageer op Khamanei se eerste opmerkings ná die 12-dae lange konflik met Israel uitgebreek het toe die Verenigde State verlede naweek die Iranse kernprogram gebombardeer het. Khamanei het gesê Iran het Amerika met die aanval op ‘n groot Amerikaanse basis in Katar “in die gesig geslaan”.
# En ten slotte: Tennis: Lloyd Harris van Suid-Afrika speel volgende week in die eerste ronde van Wimbledon teen die Belg Zizou Bergs. Die 28-jarige Harris was veronderstel om vir die grasbaan-Grand Slam-toernooi te kwalifiseer, maar het regstreeks tot die hooftrekking deurgedring weens ‘n aantal laat onttrekkings. Verskeie beserings het sy posisie op die wêreldranglys laat tuimel van 31ste in September 2021 tot die huidige 314de. Sy beste vertonings op Wimbledon was in 2021 en verlede jaar, toe hy die tweede ronde bereik het. Die 26-jarige Bergs is nommer-49 in die wêreld.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….