Nuus 08:00
BULLETIN 27 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die inhegtenisneming van die hoof van polisie-misdaadintelligensie
# Iran se opperleier sê die Amerikaanse aanvalle het nie hul kernprogram ontwrig nie
# En Olimpiese Spele: IOK-lede wil die vroue-kategorie in sport beskerm
# Die DA het die inhegtenisneming van die misdaadintelligensiehoof, Dumisani Khumalo, verwelkom. Dit hou verband met vermeende onwettige aanstellings. Dit volg na die arrestasies van ander senior amptenare van die Misdaadintelligensiediens vroeër die maand, insluitend die finansiële hoof, Philani Lushaba, in verband met ‘n beweerde toesmeerdery van ʼn inbraak en onregmatige aankope van twee luukse eiendomme. Dianne Kohler Barnard van die DA sê hierdie arrestasies dui op ʼn ernstige vertrouensbreuk:
Die GOOD-party het intussen ook die inhegtenisneming van Khumalo, verwelkom en sê senior lede van wetstoepassing moet aan die hoogste standaarde van integriteit en aanspreeklikheid voldoen. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê korrupsie en misdadigheid kan nie toegelaat word by diegene wat vertrou word om die reg toe te pas nie:
# Die Nasionale Unie van Mynwerkers se gewese adjunkpresident Phillip Vilakazi is verkies as die vakbond se nuwe president nadat hy Dan Balepile met 80 stemme verslaan het by die 18de Nasionale Kongres in Boksburg. Balepile het vir ʼn tweede termyn gestaan. Olihile Kgwari is die nuwe adjunkpresident, Mpho Phakedi is die hoofsekretaris en die tesourier-generaal is Hellen Diatile. Vilakazi het hervormings belowe om die vakbond te verenig, en beklemtoon leierskap in NUM gaan oor diens en toewyding, nie gewildheid nie.
# Iran se opperleier, Ajatolla Ali Khamenei, sê Amerika se aanvalle het niks belangrik reggekry om die land se kernprogram te vertraag nie. President Donald Trump beweer die aanvalle op drie terreine het Iran se kernvermoë uitgewis. Volgens ʼn uitgelekte intelligensieverslag is die skade moontlik nie so erg nie. Khamenei het in sy eerste openbare toespraak sedert die skietstilstand met Israel Dinsdag van krag geword het, gewaarsku Iran sal reageer op enige Amerikaanse aanvalle deur Amerikaanse militêre basisse in die Midde-Ooste te teiken.
# Olimpiese Spele: Die president van Internasionale Olimpiese Komitee, Kirsty Coventry, sê daar is oorweldigende steun onder lede om die vrouekategorie in sport te beskerm. Dit volg na die omstredenheid oor die 2024-bokstoernooi by die Parys-spele waar twee atlete, Imane Khelif en Lin Yu-Ting, goue medaljes gewen het. Dit ten spyte daarvan dat hulle die vorige jaar by die Wêreldkampioenskap gediskwalifiseer is omdat hulle nie aan geslagsvereistes kon voldoen nie. Coventry sê ʼn werksgroep sal aangestel word om ʼn nuwe beleid op te stel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-356-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-299-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….