Nuus 08:00
BULLETIN 26 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê ondanks Ramaphosa se slimpraatjies, is die NHI steeds ongrondwetlik
# Putin sal nie na die BRICS-beraad in Brasilië reis nie uit vrees vir inhegtenisneming
# En sokker: Mamelodi Sundowns word in die Klubwêreldbeker uitgeskakel
# AfriForum sê daar is geen verband tussen die gehalte van die navorsingsinfrastruktuurfasiliteit vir kerngeneeskunde en die grondwetlikheid of werkbaarheid van die Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel nie. President Cyril Ramaphosa het Dinsdag tydens sy besoek aan die navorsingsfasiliteit by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria dit as ‘n bloudruk vir die NGV geloof. Louis Boshoff van AfriForum sê die uitstekende navorsingsfasiliteit maak nie die NGV grondwetlik of bekostigbaar nie:
# Die parlementêre gekose komitee oor Ekonomiese Ontwikkeling en Handel sê die Departement van Indiensneming en Arbeid moet deeglik besin oor wat hy wil bereik met die hersiening van die land se arbeidswette. Die departement wil sowat ses stukke wetgewing hersien en wysig, en die proses het reeds op kabinetsvlak begin. Die komitee sê die hersiening van arbeidswetgewing moet die land se trae ekonomie en skerp stygende werkloosheidsyfer in ag neem.
# Die DA in die Tshwane-metro het Wyk 56 behou na gister se tussenverkiesing. Die wyk wat Hatfield, Brooklyn, Hillcrest en New Muckleneuk insluit, het vakant geraak nadat die DA-raadslid, Jarad Frimmel, in April bedank het. Die party se stem-aandeel in die wyk het van 50,05-persent in die 2024-verkiesing toegeneem tot 80-persent in hierdie tussenverkiesing. Cilliers Brink van die DA sê dis duidelik dat die huidige ANC-EFF-ActionSA-koalisie die mense van Tshwane min hoop gee:
# Die president van Rusland, Vladimir Putin sal nie volgende maand se Brics-beraad in Brasilië bywoon nie aangesien daar ‘n arrestasiebevel deur die Internasionale Strafhof teen hom uitstaande is. Die Strafhof in Den Haag wil Putin arresteer vir die beweerde onwettige deportasie van Oekraïense kinders nadat sy troepe die land in 2022 binnegeval he. ‘n Kremlin-adviseur Yuri Ushakov het aan joernaliste gesê Putin gaan via ’n videoskakel aan die BRICS-staatsberaad van 6 tot 7 Julie in Rio de Janeiro deelneem.
# Sokker: Mamelodi Sundowns is by FIFA se Klub-Wêreldbeker uitgeskakel ná ʼn gelykopwedstryd sonder doele teen Fluminense in Miami Gardens, Florida. Die Suid-Afrikaanse ligakampioene moes wen om na die laaste 16 deur te dring. Sundowns is derde in Groep F met vier punte wat net een minder is as Fluminense, wat saam met Borussia Dortmund deur is na die laaste 16. Sundowns-afrigter, Miguel Cardoso, sê sy spelers kan met trots na Suid-Afrika terugkeer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-931-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-339-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….