Nuus 08:00
BULLETIN 25 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SKOOR begin met ’n ondersoek na die Padongelukkefonds
# ‘n Demokratiese kongreslid wil hê Donald Trump moet ampshalwe aangekla word oor die Iran-aanval
# En Atletiek: Prudence Sekgodiso wen die 800 m by die Ostrava Golden Spike
# ActionSA sê hy steun die parlementêre staande komitee oor Openbare Rekeninge se besluit om te begin met ‘n ondersoek na die Padongelukkefonds. Alan Beesley van ActionSA noem die fonds ‘n septiese put van korrupsie en wanbestuur. Hy vra dat die fonds se raad afgedank word, en ‘n volledige parlementêre debat. Die fonds beskik oor ‘n jaarlikse inkomste van meer as 50-miljard-rand en Beesley sê Suid-Afrikaners verdien aanspreeklikheid, nie onbevoegdheid en verkwistende uitgawes nie:
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge het intussen besluit om ‘n volledige ondersoek na die Padongelukkefonds van stapel te stuur. Bewerings van wanadministrasie, finansiële wanbestuur, verkwistende en roekelose uitgawes, en verwante finansiële wangedrag sal onder die vergrootglas kom. Die komitee sê die besluit volg na maande van herhaalde pogings om eerlike, volledige inligting van die fonds se raad en uitvoerende bestuur te bekom, sonder sukses. Die SKOOR-voorsitter, Songezo Zibi, sê hulle beplan om die verwysingsraamwerk van die ondersoek aan die begin van Julie goed te keur.
# Die Suid-Afrikaanse Studentefederasie gaan vandag ‘n betoging by die Departement van Hoër Onderwys in Pretoria hou. Die federasie sê hy is bekommerd oor verskeie onopgeloste sake van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente wat gelei het tot opgehoopte klasgelde vir studente en die uitbetaling van toelae. Die optog begin by die Ou Putco-busdepot in Marabastad en gaan na die departement se kantoor in Francis Baardstraat. Die Stad Tshwane sê verskeie strate word geraak, insluitend Struben, Madiba en Pretorius.
# ‘n Kongreslid van die Demokrate, Al Green, het ‘n mosie ingedien ten einde president Donald Trump in ‘n staat van beskuldiging te plaas en beskuldig hom van die misbruik van sy magte. Hy sê die president het die skeiding van magte geminag deur die Kongres te omseil en oorlog te verklaar, deur die Amerikaanse weermag opdrag te gee om Iran te bombardeer sonder grondwetlike goedkeuring. Green se mosie bestempel Trump as ‘n outoritêre president wat Amerika se demokrasie bedreig:
# Atletiek: Suid-Afrika se Prudence Sekgodiso het die vroue 800-meter-finaal in ‘n byeenkomsrekord en persoonlike beste tyd van een-minuut-57,16-sekondes by die Ostrava Golden Spike in die Tsjeggiese Republiek gewen. Oratile Nowe van Botswana en Ethiopiër Nigist Getachew was onderskeidelik tweede en derde. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Douw Smit, het tweede geëindig na Indië se Olimpiese medaljewenner, Neeraj Chopra, in die mans se spiesgooi-finaal, met ‘n gooi van 84,12-meter. Tshepo Tshite het in ‘n teleurstellende negende plek in die mans se 1 500-meter geëindig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-63-dollart. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….