Nuus 08:00
BULLETIN 4 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vakbondfederasie Cosatu ondersteun munisipale werkers se nasionale optog
# Sokker: Argentinië sukkel verby Kaap Verde na die laaste 16 by die Wêreldbeker
# En Taylor Swift en Travis Kelce haak af in New York
# Die vakbondfederasie Cosatu het sy steun aan die munisipale vakbond Samwu belowe, vir sy nasionale optrede volgende Donderdag in Tshwane. Die optog na die Nasionale Tesourie sal na verwagting kommer oor laat salarisbetalings, onbillike arbeidspraktyke, nie-nakoming van kollektiewe ooreenkomste, en werksonsekerheid insluit. Zanele Sabela van Cosatu doen ‘n beroep op die regering en munisipaliteite om werkers se griewe aan te spreek en bestendigheid in plaaslike regering te herstel:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, sê gesprekke bly die sleutel om praktiese oplossings en die handhawing van bestendige arbeidsverhoudinge te vind. Dit volg na gesprekke tussen die registrateur van Arbeidsverhoudinge en die Vereniging van Staatsamptenare oor die moontlike deregistrasie van die vakbond. Die woordvoerder van die Ministerie, Thobeka Magcai, sê die partye het ooreengekom om die besprekings voort te sit, met die registrateur wat bereid is om die vakbond te help om sy registrasie-uitdagings deur betrokkenheid, in plaas van regstappe, aan te spreek:
# AfriForum sê swak toesig en ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid dra steeds by tot die agteruitgang van munisipaliteite. Die organisasie het ‘n aansoek vir die Bevordering van Toegang tot Inligting by die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake ingedien, waarin rekords oor die aanstelling en toesig van senior munisipale amptenare aangevra word. Deidré Steffens van AfriForum sê die inligting sal help om te bepaal of amptenare aanspreeklik gehou word en of regeringsingrypings die bestuur in sukkelende munisipaliteite verbeter:
# Die Wes-Kaapse Tesourie het ‘n nuwe leerskap vir voorsieningsketting begin om twee-honderd regeringsamptenare in openbare verkryging op te lei. Die eenjaarprogram sal deelnemers toerus met die vaardighede en kwalifikasies wat nodig is om openbare fondse verantwoordelik te bestuur en dienslewering te verbeter. Die leerskap, wat deur die Vervoeronderwys- en Opleidingsowerheid befonds word, kombineer klaskameropleiding met praktiese werkplekervaring. Die LUR vir Finansies, Deidré Baartman, sê die program sal deursigtigheid, verantwoordbaarheid en etiese besluitneming in openbare verkryging versterk.
# Sokker: Argentinië het in Miami bloed gesweet voordat hulle Kaap Verde se verrassende Wêreldbeker-veldtog beëindig het. Lionel Messi het sy 20ste Wêreldbeker-doel aangeteken toe Argentinië in oortyd met 3-2 gewen het om ‘n plek in die ronde van 16 te bespreek. Messi het sy eie rekord verbeter deur in agt agtereenvolgende Wêreldbekerwedstryde doele aan te teken. Hy het nou ‘n voorsprong van twee doele in die wedloop om die toernooi se voorste doelskieter van alle tye te word. Kaap Verde het regdeur die toenooi gewys waartoe hulle in staat is met gelykopuitslae teen Spanje, Uruguay en Saoedi-Arabië, wat hulle ‘n plek in die uitkloprondes besorg het.
# En ten slotte: Die popsuperster Taylor Swift en die Amerikaanse voetbalspeler Travis Kelce is getroud. Swift se woordvoerder het Vrydag aangekondig dat die Grammy-bekroonde sangeres en die Kansas City Chiefs-ster in die huwelik bevestig is. Gaste het ‘n glansryke viering by Madison Square Garden in New York bygewoon wat die kroon span op ‘n drie jaar lange verhouding. Komediant Adam Sandler het die huweliksplegtigheid behartig, terwyl Swift se broer, Austin Swift, as eregetuie opgetree het. Kelce se broer, die voormalige voetbalspeler Jason Kelce, was die strooijonker. Jennifer Lopez, Ed Sheeran, Ethan Hawke, Jimmy Fallon en Abby Wambach was onder die beroemde gaste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….