Nuus 08:00
BULLETIN 20 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê die regering het waardevolle lesse geleer uit die gryslys
# Die polisie stel ondersoek in nadat vyf liggame in die Oos-Kaap ontdek is
# En Trump gee ’n onderhandelingstyd van twee weke voor hy besluit of hy Iran gaan aanval
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê dit was ‘n goeie uitdaging vir die regering nadat die Finansiële Aksietaakspan Suid-Afrika op die gryslys geplaas het. Die land is sedert Februarie 2023 op die lys omdat dit nie internasionale standaarde nakom wat met geldwassery en onwettige finansiële vloei verband hou nie. Suid-Afrika het intussen aan al 22 vereistes voldoen en behoort in Oktober van die lys te kom. Godongwana sê die proses was waardevol omdat hulle geleer het hoe om as regering, as ʼn geheel, te werk en op te tree.
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê Suid-Afrika het ʼn belangrike rol gespeel in die onderhandeling van die Verdrag oor Biodiversiteit Buite Nasionale Jurisdiksie, of die Oopsee-verdrag. Dis die eerste wetlik bindende instrument om biodiversiteit in gebiede buite nasionale grense te beskerm. George sê die land het ʼn trotse tradisie om bydraes te lewer tot internasionale omgewingsbestuur en sal voortgaan om dit te doen:
# Polisie in die Oos-Kaap ondersoek moordsake nadat vyf liggame op die R-345 naby Crossroads buite Peddie gevind is. Die verkoolde lyke is in ʼn beskadigde voertuig opgespoor. ʼn Polisiewoordvoerder, Nobuntu Gantana, sê die slagoffers is onherkenbaar verbrand en die voertuig erg beskadig, en kan dus nie in die stadium geïdentifiseer word nie:
# Die Withuis sê president Donald Trump sal binne die volgende twee weke besluit of Amerika regstreeks betrokke gaan raak by die Iran-Israel-konflik. Dit is om tyd te gee vir onderhandelings in die hoop dat Iran sal afsien van sy onbuigsaamheid en instem tot voorwaardes wat hy voorheen verwerp het. Dit sluit in dat hy ophou om uraan te verryk. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê Trump se eerste prioriteit is om seker te maak Iran vervaardig nie ʼn kernwapen nie:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een en verdedigende kampioen, Jannik Sinner, is by die Halle Ope in Duitsland uitgeskakel. Die Italianer is onkant betrap deur die 45ste op wêreldranglys Alexander Bublik van Kasakstan wat hom verslaan het in sy grootste nederlaag sedert Augustus 2023. Die wêreld-nommer-drie van Duitsland, Alexander Zverev, het die Italianer, Lorenzo Sonego geklop om die kwarteindronde die sesde keer te haal. Die Rus, Andrey Rublev, het teen Tomas Martin Etcheverry van Argentinië verloor terwyl sy landgenoot, Karen Khachanov, met die Kanadees, Felix Auger-Aliassime, afgereken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 24-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-630. Die prys van goud is drie-duisend-348-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….