Nuus 08:00
BULLETIN 18 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die G7-beraad was betekenisvol vir Suid-Afrika
# Numsa betoog vandag by Denel oor loonverhogings
# En Kanada stel nuwe sanksies teen Rusland in
# President Cyril Ramaphosa sê die G7-beraad in Kanada was betekenisvol, veral vir Suid-Afrika wat president van die G20 is. Onder Suid-Afrika se G20-presidentskap is pogings aangewend om die G7 se doelwitte en agenda in ooreenstemming met dié van die G20 te kry. Ramaphosa sê hulle soek groter samewerking in areas soos belegging, internasionale misdaad, klimaatsverandering en billike oordrag, asook inklusiewe wêreldwye groei en ontwikkeling:
# Die DA sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se gewese administrateur, Freeman Nomvalo, het versuim om vir die nuwe raad ‘n oorhandigingsverslag te laat. Die party sê dis ten spyte van betaling van 5,5-miljoen-rand vir die tien maande en twee weke van sy kontrak. Die DA sê ʼn oorhandigingsverslag sou die nuwe raad kon help, gegewe die talle vrywaringsoudits en vermeende wanbestuur en korrupsie wat tot die administrateur se aanstelling gelei het. Hy sê hy sal ʼn vraag indien om die presiese terme van Nomvalo se kontrak te bepaal.
# Die metaalwerkersvakbond, Numsa, betoog vandag by Denel se kantoor in Irene, Centurion. Die vakbond sê hy sal die staatsinstelling aan die kaak stel omdat hy weier om werkers meer te betaal. Numsa-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê Denel se bestuur het die afgelope vyf boekjare salarisverhogings geweier. Sy sê lede moet aanhoudend betoog om te kry wat volgens haar aan hulle behoort:
# Die Kanadese eerste minister, Mark Carney, sê sy land sal bykomende sanksies teen Rusland instel wat 77 individue en 39 instellings insluit. Hy sal ook sanksies instel teen die handel van ʼn bykomende 201 vaartuie en verdere beperkings plaas op vaartuie wat deel is van Rusland se skadu-vloot. Carney sê dis belangrik om maksimum druk op Moskou uit te oefen wat nou weier om oor ʼn skietstilstand te onderhandel:
# Sokker: Mamelodi Sundowns het hulle veldtog in die Wêreldklubkampioenskap begin met ‘n oorwinning van 1- 0 teen Ulsan HD van Suid-Korea in Orlando, Florida. Iqraam Rayners se doel in die 36ste minuut en verdediging deur die doelwagter Ronwen Williams wat twee doelskietpogings gefnuik het, het die oorwinning aan die huidige PSL-kampioene besorg. Sundowns is nou bo aan Groep F na die Bundesliga klub Borussia Dortmund gelykop gespeel het met nul elk teen Fluminense van Brasilië in New Jersey. Sundowns se volgende groepwedstryd is Saterdag teen Dortmund.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-77-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-384-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….