Nuus 08:00
BULLETIN 17 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema herhaal dat daar geen wit volksmoord in Suid-Afrika is nie
# Die dodetal in die Oos-Kaapse oorstromings styg tot 90
# En die vierde groep soldate in die DRK sal vandag terugkeer huis toe
# EFF-leier Julius Malema het weer bewerings van ‘n wit volksmoord in Suid-Afrika veroordeel. President Donald Trump van Amerika het verlede maand tydens sy ontmoeting met president Ramaphosa gesê Malema moet gearresteer word en hom beskuldig dat hy geweld teen wit boere in die land aanhits. Malema het gister tydens ‘n Jeugdagviering in Durban gesê die EFF sal nie toelaat dat die land se soewereiniteit ondermyn word nie:
# Die dodetal in die Oos-Kaapse oorstromings het tot 90 gestyg en sluit 30 kinders in. Lykskouings is afgehandel en 80 liggame is positief geïdentifiseer, terwyl 77 liggame aan families oorhandig is. Die oorstromings het infrastruktuur beskadig, wat 58 skole en 20 mediese sentrums insluit. Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe wat Maandag met die betrokke families in Mthatha vergader het, sê staatsbesteding op rampverligting moet fyn dopgehou word:
# Die vierde groep soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat in die Demokratiese Republiek die Kongo ontplooi was, kom vandag in Suid-Afrika aan. Die derde groep van sowat 220 het gister op die Bram Fischer Lughawe in Bloemfontein aangekom. Die eerste groep van 249 soldate het Vrydag geland en die tweede groep van 257 het Sondag op die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria geland. Die SANW sê die gefasseerde terugkeer is deel van sy beplande onttrekking uit die gebied.
# Iran het Israel se aanval op sy staatstelevisiekanaal, IRINN, veroordeel en ʼn oorlogsmisdaad genoem. Die aanval het tydens ʼn regstreekse uitsending plaasgevind en die nuusleser genoop om na talle ontploffings te gaan wegkruip. Die Israelse weermag sê die Iranse weermag het die gebou se infrastruktuur en bates onder die dekmantel van burgerlike aktiwiteite vir militêre doeleindes gebruik. Iran se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Amir Saeid Iravani, sê Iran val Israel aan uit selfverdediging:
# Tennis: Die Brit, Dan Evans, het sy eerste top-20-oorwinning sedert 2023 behaal nadat hy in die eerste ronde by Queen’s Club met die Amerikaner, Frances Tiafoe, afgereken het. Nog ʼn Brit, Cameron Norrie, is deur die Tsjeggiese tiener, Jakub Mensik, uitgeskakel. Die kwalifiseerder, Mackenzie McDonald van Amerika, het die Fransman Gael Monfils geklop terwyl die vierde gekeurde Holger Rune van Denemarke sy grasbaanseisoen afgeskop het met ʼn sege oor die gelukkige verloorder, Christopher O’Connell van Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-621-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-384-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….