Nuus 08:00
BULLETIN 3 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa versoek lande om nie die DRK te isoleer te midde van die Ebola-uitbreking nie
# Die ANC steun die pasaangestelde minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule
# En Iran waarsku die VSA en Israel teen aanvalle tydens die begrafnisplegtighede vir opperleier, Ali Khamenei
# President Cyril Ramaphosa sê hy hoop die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda sal beperk bly en nie ander lande in Afrika of die wêreld bedreig nie. Hy het gister in sy hoedanigheid as die Afrika-unie se kampvegter vir voorkoming, gereedheid en reaksie op pandemies Kinshasa in die DRK besoek. Meer as een-duisend-400 gevalle en 438 sterftes is net in die DRK aangemeld. Ramaphosa vra lande om nie die DRK te isoleer nie:
# Die Sekretaris-Generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het president Cyril Ramaphosa se besluit om Dina Pule as die nuwe minister van Maatskaplike Ontwikkeling aan te stel verdedig en sê hy het voor die aanstelling omsigtig ondersoek gedoen. Pule is voorheen weens onetiese gedrag uit die kabinet ontslaan toe bevind is sy het haar amp misbruik deur haar verbintenis met die sakeman Phosane Mngqibisa geheim te hou. Hy het voordeel uit hul verhouding getrek met betrokkenheid van ses-miljoen-rand by die Cape Town ICT Indaba. Mbalula sê Pule het uit haar foute geleer:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik het Eskom versoek om sy ooreenkoms met die Stad Johannesburg bekend te maak voordat enige onderbrekings in die elektrisiteitstoevoer oorweeg word. Die organisasie het ook strenger toesigmaatreëls voorgestel, insluitend onafhanklike monitering van elektrisiteitsinkomste en gereelde openbare verslagdoening. Julius Kleynhans van OUTA sê hoewel die nutsmaatskappy die reg het om geld wat aan hom verskuldig is, te verhaal, moet inwoners en besighede wat betaal, nie gestraf word vir die stad se finansiële mislukkings nie:
# Iran se weermag het Amerika en Israel gewaarsku dat hy met volle mag sal reageer as hulle die land aanval tydens begrafnisseremonies vir die opperleier, Ajatolla Ali Khamenei. Hy is op 28 Februarie op die eerste dag van Amerika en Israel se oorlog teen Teheran in ‘n lugaanval dood. Iranse owerhede beplan van môre af tot Donderdag begrafnisseremonies op verskeie plekke in Iran en Irak. Iran se president Masoud Pezeshkian beskryf Khamenei se dood as “martelaarskap” en sê dis die begin van ʼn nuwe hoofstuk van eenheid en veerkragtigheid.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, is deur na die derde ronde by Wimbledon nadat sy die Tsjeg, Karolina Pliskova, geklop het. Die voormalige kampioen, Elena Rybakina van Kasakstan het maklik met die Amerikaner, Caty McNally, afgereken terwyl verlede jaar se finalis, Amanda Anisimova, haar Amerikaanse landgenoot, Sofia Kenin, verslaan het. In die mansafdeling het die Duitser, Alexander Zverev, die Fransman, Valentin Royer, huis toe gestuur. Matteo Berrettini van Italië het Arthur Fils van Frankryk geklop terwyl die Bulgaar, Grigor Dimitrov, die Tsjeg, Jakub Mensik, getroef het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-454-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-180-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….