Nuus 08:00
BULLETIN 8 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die ANC-huis staan nog en sal nooit val nie
# Die DA sê Bheki Cele is onder druk om gespesialiseerde eenhede vir Nelson Mandelabaai te oorweeg
# En, 171 Boeing 737’s se vlerke geknip vir veiligheidsinspeksies
# Die ANC se adjunkpresident Paul Mashatile sê na 112 jaar staan die ANC-huis nog en dit sal nooit val nie. Mashatile het by ‘n kerkdiens in Mbombela, Mpumalanga, gepraat as deel van die party se 8 Januarie-verklaring wat komende Saterdag in die Mbombela-stadion gehou word. Hy sê die ANC se 112de herdenking is nie net om dit te vier nie, maar ook om die organisasie en die Suid-Afrikaanse nasie se demokrasie te verdedig:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party se hoofsekretaris, Solly Mapaila, sê die party het nog nooit enige persoon genader om onwettige befondsing te soek nie. Hy het gereageer op bewerings dat hy ten minste een-miljoen-rand van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente ontvang het. Mapaila het alliansielede toegespreek by die 29ste herdenking van die dood van SAKP-voorsitter, Joe Slovo, by die Avalon-begraafplaas in Soweto. Hy sê dit is onaanvaarbaar dat enigiemand die naam van die SAKP in hul skinderpraatjies of skelmpraatjies probeer bysleep:
# Die DA in die Oos-Kaap sê sy oproep om die ontplooiing van nasionale gespesialiseerde misdaadbekampingseenhede in die misdaadgeteisterde Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, word nou deur die minister van Polisie, Bheki Cele, oorweeg. In Oktober verlede jaar het die party aan Cele geskryf nadat ses mense op een dag wreed vermoor is in vermoedelike bendemoorde. Andrew Whitfield van die DA sê die party het Cele se dringende ingryping gevra om SAPD-gespesialiseerde hulpbronne te ontplooi om die voortslepende moorde te hanteer, spesifiek in die bendegeteisterde noordelike gebiede van Gqeberha:
# Die Amerikaanse lugvaartreguleerder sê 171 Boeing 737 Max 9-vliegtuie sal op die grond bly totdat hy seker is die vliegtuie is veilig. Die federale lugvaartadministrasie ondersoek die vliegtuie ná ʼn voorval Vrydag. ʼn Vlug van Alaska Airlines moes ʼn noodlanding uitvoer nadat ʼn groot deel van die vliegtuig se buitekant kort na opstyging afgeval het. Die vliegtuig met 177 passasiers en bemanning aan boord kon veilig in Portland land. Talle passasiers is beseer. United Airlines en Alaska Airlines gebruik die meeste Boeing 737 Max 9’s in Amerika.
# Tennis: Alexander Zverev het twee wedstrydpunte gered in ʼn uitmergelende driestel-oorwinning oor Hubert Hurkacz om Duitsland Sondag te help om teen die verwagting in Pole te wen en hulle eerste United Cup-titel in Sydney in te palm. Die wêreld-nommer-sewe het ʼn oorwinning van 6-7, 7-6 en 6-4 behaal, en topgekeurde Iga Swiatek het met 6-3 en 6-0 met Angelique Kerber afgereken. Zverev en sy dubbelspelmaat Laura Siegemund het met ‘n dubbelspel-oorwinning van 6-4, 5-7 en 10-4-oor Swiatek en Hurkacz, seker gemaak die titel gaan Duitsland toe. Swiatek is op haar beste en skop die Australiese Ope af met 16 agtereenvolgende oorwinnings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-610-dollar-4-sent. Die prys van goud is twee-duisend-36-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….