Nuus 08:00
BULLETIN 13 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê ‘n kommissie moet die Nasionale Vervolgingsgesag ondersoek
# Die DA sê die terugkerende soldate verdien antwoorde en nie ‘n mediasirkus nie
# En die Amerikaanse Federale Lugvaartowerheid help met die ondersoek na die Indiese lugramp
# EFF-leier Julius Malema het amptelik aan president Cyril Ramaphosa geskryf en gevra dat ‘n kommissie van ondersoek aangestel word om die Nasionale Vervolgingsgesag te ondersoek. Dit volg nadat die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi, beweer het die NVG is deur korrupte aanklaers geïnfiltreer. Malema sê die voorgestelde kommissie se mandaat moenie beperk word tot prosedurele onreëlmatighede of swak administrasie nie, maar ook ʼn deeglike institusionele oudit van die NVG insluit. Hy sê afgetrede hoofregter Mogoeng Mogoeng moet die kommissie lei.
# Die DA het die terugkeer van die eerste groep soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat in die Demokratiese Republiek die Kongo ontplooi was, verwelkom. Die soldate was sedert Desember 2023 in Goma gestasioneer vir ʼn vredespoging te midde van spanning tussen DRK-magte en M23-rebelle. Chris Hattingh van die DA sê die Departement van Verdediging se beplande rooitapyt-tuiskomsparade is baie beter gekoördineer as die sending self, wat ʼn chaotiese onttrekking ingesluit het:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy is uiters bekommerd oor die gevolge van erge oorstromings in die Oos-Kaap. Die dodetal het tot meer as 70 gestyg terwyl sowat tien-duisend mense ontheem is. Een-en-sestig van die sterftes was in Mthatha en omliggende gebiede. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naiker, sê die ramp beklemtoon die dringende behoefte aan ʼn groter vermoë om tydens rampe op te tree en langtermynbeleggings in veerkragtige infrastruktuur:
# Amerika se minister van Vervoer, Sean Duffy, sê die Federale Lugvaartadministrasie werk nou saam met die Nasionale Vervoer-veiligheidsraad om Indiese owerhede by te staan met die ondersoek na die Air India-vliegongeluk. Altesaam 241 van die 242 mense aan boord is dood toe dit net na opstyging by ʼn lughawe in Ahmedabad, Indië, neergestort het. Duffy sê die lugvaartadministrasie het reeds met die vliegtuig se vervaardigers, Boeing en General Electric, kontak gemaak om met die ondersoek te help:
# Gholf: Die Amerikaner JJ Spaun het vier voëltjies aangeteken vir sy telling van vier onder 66 en loop na die eerste dag met een hou voor in die Amerikaanse Ope by die Oakmont-buiteklub in Pennsilvanië. Die 34-jarige speler se naaste teenstander is Thriston Lawrence van Suid-Afrika wat een hou agter hom is nadat hy ses voëltjies behaal het in ʼn ronde van 67. Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, Meesters-kampioen Rory McIlroy en die verdedigende kampioen, Bryson DeChambeau, kon nie op die eerste dag op dreef kom nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-954-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-437-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….