Nuus 08:00
BULLETIN 12 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering is bekommerd oor die sanksies teen regters van die Internasionale Strafhof
# Die Parlement is bekommerd oor Korrektiewe Dienste se oorbesteding van 1,4-miljard-rand
# En krieket: die Wes-Indiese Vroue klop Suid-Afrika in hul eerste eendagwedstryd
# Die Suid-Afrikaanse regering sê hy is bekommerd oor Amerika se besluit om sanksies in te stel teen vier regters van die Internasionale Strafhof. Dis in reaksie op die strafhof se lasbriewe vir die inhegtenisneming van Israelse amptenare, insluitend eerste minister Benjamin Netanyahu, en die ondersoek na beweerde Amerikaanse oorlogsmisdade in Afghanistan. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê dit skep ‘n presedent waar mense aanspreeklikheid vir menseregteskendings kan vermy:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste het kommer uitgespreek oor dié departement se oorbesteding wat waarskynlik 1,4-miljard-rand gaan beloop. Die departement se jaar-tot-datum uitgawes vir die tydperk wat op 31 Desember 2024 geëindig het, is 21,6-miljard-rand, terwyl die verwagte jaarlikse besteding 29,2-miljard-rand is. Die gewysigde begroting is 27,8-miljard-rand. Die komitee se voorsitter, Kgomotso Anthea Ramolobeng, sê die departement moet meer doeltreffende maniere vind om koste te hanteer wat die toenemende tronkbevolking, infrastruktuur-opknapping en onderhoud betref.
# Die Polokwane-hooggeregshof in Limpopo het Mologadi Magdeline Mehlape tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis nadat sy skuldig gepleit het op die moord op haar pa, Malekutu Johannes Mehlape. Hy was ʼn kringbestuurder by die Limpopo Onderwysdepartement. Die 28-jarige Mehlape het ook 15 jaar tronkstraf gekry vir roof. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder, Mashudu Malabi-Dzhangi, sê vier ander beskuldigdes staar verskeie aanklagte in die gesig, onder andere vir sameswering om te moor, moord en roof met verswarende omstandighede:
# Byna 40 Palestyne is volgens berigte gister deur Israelse magte doodgeskiet naby kosverspreidingsentrums in Gaza. Vyf-en-twintig is dood en tientalle gewond toe hulle ʼn sentrum van die Amerikaans-Israelies-gesteunde Gaza Humanitêre Stigting naby Netzarim in sentraal-Gaza genader het. Veertien ander is na bewering dood terwyl hulle na nog ʼn verspreidingsentrum in Rafah beweeg het. Israel se minister van Buitelandse Sake, Eden Bar Tal, sê miljoene maaltye word daagliks gratis afgelewer sonder om Hamas se terreurmasjien te voer:
# Krieket: Die Protea-vroue het volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode ʼn nederlaag van vier paaltjies gely teen die Wes-Indiese vroue in die eerste eendagwedstryd in Barbados. Tazmin Brits het 57 aangeteken en Suid-Afrika het 232 vir nege in hul 50 boulbeurte behaal. In reaksie het die gasvroue ʼn aangepaste teiken van 180 in 34 boulbeurte gejaag nadat spel deur reën onderbreek is. Hulle het die teiken bereik met twee boulbeurte oor en loop met 1-0 voor in die reeks van drie wedstryde. Die tweede eendagwedstryd vind Saterdag plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-835-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-374-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….