Nuus 08:00
Bulletin Opskrifte
BULLETIN 11 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel ‘n groep van 32 aan om die Nasionale Dialoog te lei,
# Die EFF sê die dialoog is ‘n betekenislose publisiteitsfoefie
# En die dodetal in die Oostenrykse skoolskietery styg tot 11
# President Cyril Ramaphosa sê daar is breë ooreenstemming dat ‘n Nasionale Dialoog moet plaasvind in die lig van die land se probleme. Hy het ʼn groep van 32 lede aangestel om die Nasionale Dialoog-veldtog te lei en te bevorder. Dit sluit die OVK-voorsitter Brigalia Bam, voormalige regter in die Konstitusionele Hof, Edwin Cameron, Springbok-kaptein Siya Kolisi, en gewese minister Roelf Meyer in. Ramaphosa sê hy sal op 15 Augustus ʼn Nasionale Konvensie belê:
Die EFF is egter nie opgewonde nie en sê die aankondiging van ʼn Nasionale Dialoog is ʼn betekenislose publisiteitsfoefie van president Cyril Ramaphosa. Die president sê die dialoog sal deur mense uit die samelewing gelei word om na te dink oor die land se toestand en die toekoms. Hy vra dat ʼn nasionale konvensie op 15 Augustus gehou word. Die EFF sê die probleme wat die dialoog moet aanspreek, is die produk van mensgemaakte verwoesting en korrupsie met die ANC as die middelpunt daarvan.
# Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal, Thulasizwe Buthelezi, sê Eskom is hard aan die werk om krag in verskeie gebiede regoor die provinsie te herstel nadat swaar sneeu en sterk wind onderbrekings veroorsaak het. Ses gebiede is geraak, waarvan die Ugu-distrik die ergste geraak is. Volgens Buthelezi het sterk wind en haelstorms meer as 70 huise beskadig, wat 14 mense dakloos gelaat en verskeie beseer het, insluitend vier leerders van die Alberton Secondary School:
# Die dodetal in die skietvoorval by ʼn Oostenrykse skool het tot elf gestyg nadat ʼn slagoffer in die hospitaal dood is. ʼn Gewapende man het gister op mense by ʼn sekondêre skool in die stad Graz losgebrand en tien mense op die toneel doodgeskiet. Die slagoffers sluit kinders tussen 14 en 18 jaar in. Owerhede sê die verdagte, ʼn 21-jarige Oostenryker wat voorheen daar skoolgegaan het, het ʼn haelgeweer en pistool gebruik. Hy is na die voorval dood aangetref in ʼn badkamer. Sy motief is nog onbekend.
# Sokker: Bafana Bafana het Mosambiek gemaklik verslaan in ʼn internasionale vriendskaplike wedstryd op die Peter Mokaba-stadion in Limpopo. Sinoxolo Kwayiba en plaasvervanger Ashley Cupido se doele in die tweede helfte het die sege beklink. Suid-Afrika keer in September terug na mededingende internasionale deelname wanneer hulle teen Lesotho en Nigerië te staan kom in kwalifiseerwedstryde vir die 2026-wêreldbeker. Afrigter Hugo Broos sê hulle het beter presteer as in Vrydag se gelykopwedstryd teen Tanzanië waarin geen doele aangeteken is nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-79-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….