Nuus 08:00
BULLETIN 9 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement is bekommerd oor StatsSA se hoë personeelomset
# Israelse soldate het aan boord gegaan van die hulpskip op pad na Gaza met Greta Thunberg aan boord
# En gholf: Samuel Simpson wen die Mopani Zambia Ope
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Beplanning, Monitering en Evaluasie is bekommerd oor finansiële probleme en vakante poste by Statistieke Suid-Afrika. Die agentskap het sowat 72 vakante poste, ‘n leegstaankoers van 21,8-persent wat sy kernfunksies en databehoeftes vir beleidsbeplanning beïnvloed. Die statistieke-generaal, Risenge Maluleke, waarsku die situasie is kritiek. Die komitee doen ‘n beroep op StatsSA om ‘n strategie te ontwikkel vir die behoud van werkers met die nodige vaardighede en om vennootskappe te ondersoek vir die versterking van sy data-insamelings- en statistiekverwerkingsvermoëns.
# Die Ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, ontken bewerings dat sommige van hul ouditeure in die Vrystaat korrup is. Dit volg nadat ActionSA beweer het dat senior Vrystaatse werknemers van die Ouditeur-generaal met Centlec-werknemers en konsultante saamgespan het om oudit-uitkomste en verslae te vervals. Die verslae moes wydverspreide finansiële wanbestuur en bedrog in die Mangaung-munisipaliteit ontbloot. Die Ouditeur-generaal se woordvoerder, Harold Maloka, sê oudits is onderworpe aan streng interne en eksterne prosesse om seker te maak etiese en ouditstandaarde word nagekom:
# Speurders van die polisie se Wes-Kaapse provinsiale taxigeweld-eenheid bied ‘n beloning van 100-duisend-rand aan vir enigiemand wat inligting kan verskaf oor die skietery by die Mfuleni-taxistaanplek in die Kaapse Vlakte Vrydagoggend. Die polisiewoordvoerder, Novela Potelwa, sê vier mense is doodgeskiet en drie gewond toe twee gewapende mans ‘n kantoortjie by die staanplek ingebars en losgebrand het. Sy sê een van die beseerdes is vermoedelik ‘n pendelaar:
# Israelse soldate het aan boord van die jag, Madleen, van die Freedom Flotilla Coalition gegaan wat humanitêre hulp en menseregte-aktiviste soos die klimaat-aktivis, Greta Thunberg, aan boord het. Die vaartuig het Vrydag uit Sisilië vertrek op pad na Gaza. Israel se ministerie van buitelandse sake sê die jag is beveel om koers te verander omdat dit ‘n beperkte gebied genader het. Hy sê ʼn blokkade is nodig om te keer dat wapens by Hamas-vegters in Gaza uitkom. Die Freedom Flotilla Coalition beskuldig Israel dat hy die Madleen met geweld onderskep het en straffeloos optree.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Samuel Simpson het sy eerste oorwinning op die Sonskyntoer behaal met sy sege in die Mopani Zambië Ope by die Nkana-gholfklub in Zambië. Hy het op 11 onder met een hou gewen ná ʼn laaste ronde van 69. Simpson se landgenoot, Herman Loubser, is tweede op tien onder baansyfer. Die Suid-Afrikaners Luke Jerling, JJ Senekal en Lyle Rowe deel die derde plek op nege onder baansyfer. Simpson is die tweede nuweling-wenner op hierdie seisoen se Sonskyn toer, ná Luis Carrera van Mexiko.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 24-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-532-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-304-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….