Nuus 08:00
BULLETIN 7 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Voormalige Suid-Afrikaanse diplomaat sê die Trump-Musk-rusie was onvermydelik
# Onwettige Starlink-dienste in Suid-Afrika is opgeskort
# En Tennis: Dis Alcaraz teen Sinner in die eindstryd van die Franse Ope
# Die voormalige diplomaat Kingsley Makhubela sê die rusie tussen die Amerikaanse president Donald Trump en die miljardêr Elon Musk was onvermydelik. Makhubela het aan SABC News gesê Musk se gedrag is traak-my-nie-agtig en hy sê dit is soos om ‘n kind na die Withuis te bring, wat die waardigheid van die Withuis aangetas het. Makhubela sê Trump is baie erg oor die beskerming van die Withuis se geloofwaardigheid. Hy waarsku Suid-Afrika sal dalk nie baat vind by die geskil nie, aangesien Trump steeds die mandaat van sy kiesers behou:
# Oudpresident FW de Klerk se weduwee het ‘n boodskap van steun aan die families van die Cradock-Vier gestuur voor die heropening van die derde geregtelike ondersoek na die moorde. Die vier is in 1985 deur die Suid-Afrikaanse veiligheidspolisie ontvoer en wreed vermoor. Die seun van een van die slagoffers, Lukhanyo Calata, het gister gesê Elita de Klerk het hom en die ander families sterkte toegewens met die hoop dat die ondersoek die waarheid en geregtigheid sal bring wat hulle nodig het vir genesing en afsluiting. Die geregtelike ondersoek word Maandag voortgesit.
# Die Stad Kaapstad se Ramprisiko-bestuursentrum doen ‘n dringende beroep op inwoners om skenkings te maak ter ondersteuning van gesinne wat hierdie winter deur brande en oorstromings geraak word. Sewe brandweerstasies regoor Kaapstad sal as insamelpunte dien en is 24-uur per dag oop. Die Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê die grootste behoefte is vir klere, nie-bederfbare voedsel, baba-poeiermelk en produkte vir persoonlike higiëne:
# Sakeman Elon Musk se maatskappy, SpaceX, het begin om Starlink-dienste wat onwettig in Suid-Afrika gebruik word, op te skort. Dit volg op ‘n waarskuwing van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika, ICASA, wat kommer uitgespreek het oor gebruikers wat skuiwergate uitbuit om toegang tot die satellietinternet te verkry. Volgens News24 is Starlink as gevolg van swart bemagtigingsreëls, nie gelisensieer om plaaslik handel te dryf nie, maar swerwingspakkette is gebruik om dit te omseil. SpaceX het ‘n tussentydse oplossing gevra terwyl hulle wettige goedkeuring probeer verkry.
# En laastens sportnuus:
# Tennis: Carlos Alcaraz gaan die verdediging van sy titel by Roland Garros volvoer en het deurgedring na die eindstryd toe die agtste gekeurde Lorenzo Musetti gister in die vierde stel van hul halfeindstryd met ‘n besering onttrek het. Die 22-jarige Spanjaard het met 4-6, 7-6, 6-0, 2-0 voorgeloop toe Musetti ‘n dybesering opgedoen het. Die wêreld-nommer twee is nou in sy tweede Franse Ope en vyfde groot eindstryd. Hy sal teen die wêreld-nommer een, Jannik Sinner speel in ‘n verwagte vuurwarm stryd. Sinner het die 24-malige Grand Slam-wenner, Novak Djokovic met 6-4, 7-5, 7-6 gestuit.
En steeds op die baan by die Franse Ope: Vir die eerste keer in meer as ‘n dekade sal die twee top gekeurde spelers teen mekaar te staan kom in die eindstryd van die Franse Ope by Roland Garros. Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, het die driemalige verdedigende kampioen, Iga Swiatek geklop en Coco Gauff, die wêreld se nommer twee, het Lois Boisson se feëverhaal beëindig om na vandag se eindwedstryd deur te dring. Gauff, wat in 2022 teen Swiatek verloor het, sal probeer om haar tweede Grand Slam-titel in te palm nadat sy die 2023 VSA Ope in drie stelle teen Sabalenka gewen het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….