Nuus 08:00
BULLETIN 5 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party stel groot veranderinge aan die Grondwet voor
# ‘n DNS-toets bevestig die oorskot van die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat is gevind
# En Donald Trump verbied 12 lande se burgers om na die VSA te reis
# Die MK-party het omvattende grondwetlike wysigings ingedien as deel van die 2025-grondwetlike hersieningsproses. Die party wil hê dat grond sonder vergoeding onteien moet word, dat landsburgers die president direk verkies, die Khoi- en San-tale amptelik erken word en die reg op volle indiensneming. Die woordvoerder van die MK-party, Nhlamulo Ndhlela, het ook verpligte militêre diensplig vir die jeug, die nasionalisering van belangrike grondstowwe, termynbeperkings vir hooggeplaaste amptenare, en die vestiging van ‘n staatsbank voorgestel.
# Die polisie sê die menslike oorskot wat verlede maand in Rust De Winter, Limpopo, gevind is, is deur DNS-ontleding positief geïdentifiseer as dié van die joernalis, Sibusiso Aserie Ndlovu en sy lewensmaat Zodwa Mdhluli. Die paartjie het op 18 Februarie in KwaMhlanga, Mpumalanga, verdwyn. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê sewe verdagtes is in verband met die saak gearresteer op aanklagte wat wissel van ontvoering en huisroof tot besit van gesteelde eiendom:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n bewaringsbevel van die Spesiale Tribunaal bekom om eiendom in die Midstream-landgoed, Gauteng, te bevries. Dis deel van voortgesette ondersoeke na die vermeende misbruik van fondse wat deur die Nasionale Loterykommissie toegeken is. Die eenheid se ondersoek het onthul 3,7-miljoen-rand se fondse wat vir gemeenskapsprojekte bedoel was, insluitend landbouontwikkeling en ouetehuise, is gebruik om die eiendom deur ʼn netwerk maatskappye sonder winsbejag en privaat instellings te koop. Die eiendom is onder Smart Safety PPE geregistreer.
# Amerika se president Donald Trump het ʼn bevel onderteken wat van 9 Junie af 12 lande se burgers verbied om na Amerika te reis en voer sekerheidsredes aan. Die lande is Afghanistan, Mianmar, Tsjad, die Republiek die Kongo, Ekwatoriaal-Guinee, Eritrea, Haïti, Iran, Libië, Somalië, Soedan en Jemen. Mense uit sewe lande het gedeeltelike beperkings: Burundi, Cuba, Laos, Sierra Leone, Togo, Turkmenistan en Venezuela. Trump sê die bevel sluit uitsonderings in vir wettige permanente inwoners, bestaande visumhouers en individue wat Amerika se belange bevorder:
# Sokker: Bafana Bafana het ʼn 1-0-nederlaag teen Mosambiek gely in hul COSAFA-beker Groep A-aanvangswedstryd in Mangaung. Antonio Sumbane het die wedstryd se enigste doel in die 74ste minuut aangeteken en drie punte vir sy span verdien. Suid-Afrika se volgende kragmeting is Saterdag teen Zimbabwe, wie se wedstryd teen Mauritius gelykop geëindig het sonder doele. Afrigter Vela Khumalo, wat vir hierdie toernooi in beheer van Bafana Bafana is, sê hulle het oor die algemeen goed gespeel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-999-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-373-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….