Nuus 08:00
BULLETIN 4 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi wil hê alle uitleweringsversoeke moet hersien word
# Die DA wil hê die regering moet verslag doen oor die vervolging van staatskapingsake
# En die EFF sê die prioriteite van die nuwe Gautengse begroting is ondoelmatig
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê sy is bekommerd oor die uitspraak in die Moroadi Cholota-uitleweringsaak. Die Hooggeregshof in Bloemfontein het bevind Cholota se uitlewering uit Amerika in 2024 was onregmatig en ongrondwetlik. Dit volg nadat die gewese Vrystaatse premier, Ace Magashule, se voormalige persoonlike assistent die staat beskuldig het dat hy vervalste dokumente aan Amerikaanse owerhede oorhandig het. Kubayi het aan die SABC gesê sy is bekommerd oor die uitleweringsprosesse:
Intussen sê die DA sê hy wil aan die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie skryf en eis dat die Departement van Justisie en die Nasionale Vervolgingsgesag rekenskap gee van nog ‘n mislukte poging om staatskapingsake te vervolg. Dit volg na die Hooggeregshof se beslissing dat Cholota se uitlewering onwettig was en sy nie in die asbessaak vervolg kan word nie. Die DA sê die NVG skep die indruk dat diegene wat staatsgeld steel, nooit verantwoordelik gehou sal word nie.
# Die EFF in Gauteng sê die provinsiale regering moet ‘n deelnemende rol in die ekonomie speel omdat dit nie volhoubaar is om op beleggers staat te maak nie. Die LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, het die 2025/2026-begroting van 172,3-miljard-rand voorgelê. Dis 886,6-miljoen-rand meer as die een wat vroeër vanjaar ingedien is. Die EFF se provinsiale voorsitter, Nkululeko Dunga, sê die prioriteite in die begroting is misplaas:
# Die Gaza Humanitêre Stigting wat deur Amerika en Israel ondersteun word, sê sy verspreidingsentrums is vandag gesluit. Dit volg nadat Israel se weermag Gaza-inwoners gewaarsku het om nie na hulpsentrums te reis nie omdat die paaie daarheen as oorlogsones beskou word. Gister is 27 mense dood wat bymekaargekom het om kos by een van die stigting se verspreidingsentrums in die Rafah-gebied in suidelike Gaza te kry. Die IDF sê sy soldate het skote afgevuur op verdagtes wat in hul rigting beweeg nadat hulle van die toegewysde roetes afgewyk het.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is die derde agtereenvolgende jaar deur na die Franse Ope se halfeindronde. Die 22-jarige Spanjaard het Tommy Paul van Amerika afgeransel. Hy is die jongste speler wat sewe halfeindrondes in mans-enkelspel Grand Slams haal sedert sy landgenoot, Rafael Nadal, dit in 2008 reggekry het. Alcaraz en Lorenzo Musetti sal sake uitspook vir ʼn plek in die eindstryd nadat die Italianer met Frances Tiafoe van Amerika afgereken het om sy eerste halfeindronde by hierdie kleibaan-major te bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-784-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-366-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….