Nuus 08:00
BULLETIN 3 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus glo volksmoord broei in Suid-Afrika
# AgriSA sê die Tabakwetsontwerp ignoreer lewensbestaan in die landbou
# En Johannesburg Water waarsku oor moontlike wateronderbrekings vandag
# Die Vryheidsfront Plus sê volksmoord is ‘n storm wat in Suid-Afrika broei. Die internasionale organisasie, Genocide Watch, het tien stadiums van volksmoord geïdentifiseer. Volgens die organisasie is wit boere in die land by fase ses – polarisasie. Wynand Boshoff van die VF Plus sê die eienskappe van hierdie stadium sluit in polariserende verklarings en propaganda, moord op gematigde lede van die aggressor-groep asook op lede van die geteikende groep, en wetgewing wat selfverdediging aan bande lê:
# AgriSA sê die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels in sy huidige formaat ignoreer die groter uitwerking op lewensomstandighede in die landboubedryf. Die wetgewing wil die verkope, advertensies, verpakking en vervaardiging van tabakprodukte reguleer en sekere dinge soos verkoopoutomate en verkope aan minderjariges verbied. AgriSA het in sy parlementêre voorlegging gesê tabakboerdery bly ʼn noodsaaklike inkomstebron vir duisende landelike huishoudings, veral in provinsies waar ander gewasse nie ekonomies lewensvatbaar is nie.
# Johannesburg Water waarsku inwoners dat wateronderbrekings moontlik vandag kan voorkom terwyl Rand Water met die eerste fase van omvattende onderhoud aan sy infrastruktuur begin. Die gefasseerde benadering begin met instandhouding van die Palmiet-stelsel. Johannesburg Water se woordvoerder, Nombuso Shabalala, sê pompwerk sal vandag tien ure lank tot 67-persent verlaag word wat tot swak waterdruk of wateronderbrekings kan lei:
# Die man wat volgens berigte Sondag in Boulder, Colorado, ʼn vlamwerper en petrolbomme gebruik het om mense by ʼn optog ter ondersteuning van Israelse gyselaars aan te val, is aangekla. Twaalf mense is beseer. Mohamed Sabry Soliman is aangekla van ʼn federale haatmisdaad en 16 aanklagte van poging tot moord. Die FBI ondersoek dit as ʼn terrorisme-voorval. Die waarnemende Aanklaer vir die Distrik van Colorado, J Bishop Grewell, sê Soliman sal aanspreeklik gehou word vir sy dade:
# Tennis: Die driemalige kampioen, Novak Djokovic, het Rafael Nadal ingehaal en die tweede man in die geskiedenis geword om 100 wedstryde by Roland Garros te wen. Die Serwiër het die Brit, Cameron Norrie, verslaan om die 16de agtereenvolgende jaar die kwarteindronde te haal. Die topgekeurde Jannik Sinner van Italië het die Rus, Andrey Rublev geklop en Alexander Bublik van Kasakstan het die wêreld-nommer-vyf van Brittanje, Jack Draper uitgeskakel. In die vroueafdeling het die Amerikaner, Madison Keys, met haar ongekeurde landgenoot, Hailey Baptiste, afgereken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-696-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-365-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….