Nuus 08:00
BULLETIN 30 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vervolgingsgesag verwerp ‘n poging om aanklagte teen ‘n getuie in die Mapisa-Nqakula-saak terug te trek
# Raymond Parsons sê die rentekoersverlaging is die regte besluit
# En Hamas sê hulle gaan die nuwe Amerikaanse voorstel vir ‘n skietstilstand in Gaza verwerp
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig hy sal voortgaan met die bedrogaanklagte teen die verdedigings-kontrakteur, Nombasa Ntsondwa-Ndhlovu, ‘n sleutelgetuie in die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula se korrupsieverhoor. News24 berig Ntsondwa-Ndhlovu, wat nou ‘n staatsgetuie is, het gevra of die tenderbedrogsaak van 100-miljoen-rand teen haar teruggetrek kan word, maar die hoof van die NVG, Shamila Batohi, het geweier. Die NVG sê dit is twee afsonderlike sake en ‘n besluit om te vervolg sal nie die saak teen Mapisa-Nqakula beïnvloed nie. Ntsondwa-Ndhlovu het aangedui sy sal regstappe doen teen Batohi se besluit.
# ‘n Ekonoom aan die Noordwes-universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee se besluit om sy rentekoersverlagingsiklus voort te sit, is die regte een. Die komitee het die koers met 25 basispunte gesny. Dit bring die terugkoopkoers af tot 7,25-persent en die prima uitleenkoers tot 10,75-persent. Parsons sê op hierdie stadium sal selfs ʼn klein daling in rentekoerse ʼn positiewe uitwerking hê op die nasionale ekonomiese stemming en vertrouensvlakke:
# FNB sê intussen die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee se besluit om rentekoerse te verlaag, dui op ʼn groter fokus op basiese plaaslike kwessies. Die komitee het die koers met 25 basispunte gesny wat die terugkoopkoers afbring tot 7,25-persent en die prima uitleenkoers tot 10,75-persent. FNB se produkhoof vir geïntegreerde advies, Ester Ochse, sê hulle verwag ʼn positiewer inflasie-uitkyk vir die res van die jaar met ʼn dringendheid om ekonomiese aktiwiteit te bevorder:
# Hamas gaan volgens berigte die jongste Amerikaanse voorstel vir ʼn skietstilstand in Gaza en die vrylating van gyselaars verwerp. Israel het die voorstel aanvaar wat insluit dat tien lewende en 18 oorlede gyselaars uit Gaza vrygelaat word, Palestynse gevangenes in Israelse tronke vrygelaat word en ʼn skietstilstand van 60 dae. ʼn Senior Hamas-amptenaar het aan die BBC gesê die voorstel sluit nie basiese eise soos die permanente beëindiging van die oorlog in nie. Volgens berigte is byna vier-duisend mense die afgelope tien weke in Gaza dood.
# Krieket: Die Royal Challengers Bengaluru is deur na hulle eerste Indiese Premierliga-eindstryd sedert 2016 ná ʼn agtpaaltjie-oorwinning teen die Punjab Kings. Josh Hazlewood en Suyash Sharma het elkeen drie paaltjies platgetrek en Punjab was na 14 boulbeurte en een bal almal uit vir 101. In antwoord daarop het Phil Salt ʼn onoorwonne 56 van 27 balle behaal en RCB het die teiken bereik met tien boulbeurte oor. Punjab speel Sondag teen die wenners van vandag se wedstryd tussen Gujarat Titans en Mumbai Indians, met die wenners wat die eindstryd haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-43-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-300-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….