Nuus 08:00
BULLETIN 6 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sasco vra vir ‘n vinnige ondersoek na korrupsie-aantygings teen Nzimande en N-S-FAS
# Die Waterkloof-huis in vesting omskep vir Oscar Pistorius se veiligheid
# En, rugby: Die Haaie hoop om terug te kom op die wenpad teen die Leeus
# Die studenteligaam Sasco is bekommerd oor die stand van hoër onderwys. Hy vra vinnige ondersoeke na korrupsie-aantygings teen minister Blade Nzimande en raadslede van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Die organisasie lig wanadministrasie en korrupsie in N-S-FAS en instellings van hoër onderwys uit, en eis regstreekse betaling uit die fonds aan studente. Hy kritiseer ook die betrokkenheid van uitgekontrakteerde maatskappye wat studente se geld administreer. Sasco eis ondersoeke na wanadministrasie in instellings van hoër onderwys en vra gratis registrasie vir behoeftige en werkersklas-studente.
Die raad van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het intussen die Organisasie teen Belastingmisbruik skerp veroordeel oor sy beroep vir die bedanking van Nzimande, en raadsvoorsitter Ernest Khoza. Die raad beskuldig OUTA van ‘n poging om N-S-FAS se fokus op die instelling van aanbevelings te laat ontspoor en beweer hulle ondersoekende verslae word beïnvloed deur voorspraak vir sekere sakebelange. Die woordvoerder, Ishmael Mnisi, herbevestig N-S-FAS se toewyding tot skoon administrasie en onderneem om bedrywighede teen te werk wat hulle doelwitte ondermyn:
# Oscar Pistorius se nuwe woonplek in Pretoria is glo in ‘n vesting omskep om sy veiligheid te verseker. Die voormalige Paralimpiese kampioen is gister na sy oom Arnold se luukse huis in Waterkloof geneem nadat hy op parool vrygelaat is. Die Britse media berig die herehuis het 24 kamers en die waarde word beraam op 47-miljoen-rand. Arnold Pistorius het blykbaar gewapende wagte met aanvalshonde gehuur en lemmetjiesdraad en elektriese heinings aangebring. Oscar se kothuis op die erf het paniekknoppies, ‘n hekhuis voor en gewapende sekerheid.
# Kenia het die eerste groep buitelandse toeriste verwelkom wat onder ‘n vereenvoudigde toegangstelsel aangekom het, in die hoop om meer besoekers te lok. Die regering se Departement van Immigrasiedienste sê, die eerste ‘’visumvrye aankomelinge” het in Nairobi geland vanaf Ethiopië se hoofstad Addis Abeba en meer sal na verwagting in die komende dae land. Onder die nuwe stelsel doen reisigers aanlyn aansoek vir ‘n elektroniese reismagtiging en betaal ‘n “verwerkingsfooi” van sowat 560-rand. Verlede jaar het president William Ruto aangekondig dat Kenia van Januarie ‘n “visumvrye land” vir mense vanoor die hele wêreld sal word.
# En, Rugby: Die Haaie hoop om weer terug te kom op die wenpad wanneer hulle vanmiddag in Durban die Leeus pak in ‘n Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting. Die span is op die oomblik heel onder aan die punteleer nadat hulle net een van hulle vorige agt wedstryde kon wen. Die Springbokslot Eben Etzebeth is terug nadat hy verlede week se nederlaag teen die Stormers in Kaapstad weens ‘n maagaandoening misgeloop het. Die afrigter, John Plumtree, glo vandag se wedstryd is ‘n kans om hulle lot om te swaai:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….