Nuus 08:00
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die Trump-vergadering was ‘n sukses
# Die VF Plus is tevrede met minister Godongwana se gewysigde begroting
# En Rand Water bevestig Tshwane se water is veilig
# President Cyril Ramaphosa sê sy ontmoeting met sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump en sy administrasie was ‘n groot sukses. Hy het gister die media toegespreek oor sy ontmoeting met Trump by die Withuis. Ramaphosa sê hulle kon die verhouding tussen Pretoria en Washington herstel wat volgens hom deur verskeie berigte, soos oor die wit volksmoord in Suid-Afrika, vertroebel is:
Ramaphosa sê intussen die moontlikheid dat Elon Musk se Starlink na Suid-Afrika kom, is nie tydens die ontmoeting bespreek nie. Die regering beplan om wette oor plaaslike swart eienaarskap te omseil sodat die Starlink-internetdiens in die land gebruik kan word. Ramaphosa het gesê hulle moet ʼn omgewing skep wat gunstig is vir regstreekse buitelandse belegging in die land:
# Die Vryheidsfront Plus sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se gewysigde begroting is ʼn oorwinning vir veelparty-demokrasie in Suid-Afrika. Die minister het probeer om die inkomstegaping te vul wat deur die geskrapte BTW-verhoging gelaat is en terselfdertyd die stygende staatskuldvlakke onder beheer te hou. Die VF Plus sê hy is tevrede dat sy voorstelle oor opbouende oplossings om ekonomiese groei te stimuleer en kostedoeltreffende staatsbesteding te bevorder, in die begroting aanvaar is.
# Rand Water het bevestig dat Tshwane se water steeds veilig is om te drink, ten spyte van ‘n gelerige tot bruinerige skynsel wat in verskeie gebiede gesien word. Woordvoerder van die Stad Tshwane, Lindela Mashigo, sê die verandering in kleur is as gevolg van die vinnige opvul van die Vaaldam, wat natuurlike organiese materiaal vrystel. Toetse toon dat die watergehalte binne nasionale standaarde bly. Hy beklemtoon dat Tshwane en Rand Water die situasie steeds noukeurig sal monitor:
# Krieket: Die Mumbai Indians het die Delhi Capitals met 59 lopies verslaan vir ‘n plek in die Indiese Premierliga se uitspeelronde. Suryakumar Yadav het ʼn onoorwonne 73 van 43 balle behaal en Mumbai het 180 vir vyf in hul 20 boulbeurte aangeteken. In antwoord daarop het Mitchell Santner en Jasprit Bumrah met die bal beïndruk en elkeen drie paaltjies platgetrek. Delhi is op 121 uitgeboul met tien balle wat oorbly. Mumbai sluit nou in die uitspeelronde aan by Gujarat Titans, Royal Challengers Bengaluru en Punjab Kings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-817-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….