Nuus 08:00
BULLETIN 21 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Johann Rupert sê Ernie Els het Trump oortuig om met Ramaphosa te vergader
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake verdedig die vlugtelingstatus van wit Afrikaners
# En die VF Plus prys die vinnige polisie-optrede na ‘n skietvoorval
# Die beroemde sakeman, Johann Rupert, sê die gholfspeler Ernie Els het president Donald Trump die afgelope maand oortuig om met Cyril Ramaphosa te vergader. Rupert en Els sal volgens berigte by Ramaphosa se afvaardiging aansluit wanneer hy Trump vandag in die Withuis ontmoet. News24 berig dat Rupert in ‘n onderhoud gesê het hierdie ontmoeting is reeds sedert 2023 aan die kom toe ʼn groep Republikeine en Demokrate wetgewing voorgestel het om Amerika en Suid-Afrika se verhouding te hersien as straf vir sy bande met Rusland.
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het die Trump-administrasie se besluit om vlugtelingstatus aan wit Afrikaners toe te staan, verdedig. President Donald Trump beweer wit boere in Suid-Afrika loop deur onder volksmoord en verdien spesiale status. Dit ten spyte daarvan dat hy Amerika se vlugtelingsprogram in Januarie opgeskort het. Rubio het aan die Senaat se komitee oor Buitelande Verhoudinge gesê hulle sal mense in die land toelaat solank dit in Amerika se belang is:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng het die polisie se vinnige optrede geloof ná ʼn skietvoorval gister in Meyerton se sakegebied. Volgens die polisie het werkers van twee sekerheidsmaatskappye op mekaar geskiet en een persoon is gewond. Tien AK-47-aanvalsgewere en ʼn pistool is op en naby die taxistaanplek gevind en drie verdagtes is gearresteer. Jaco Mulder van die VF Plus sê die polisie en nooddienste se vinnige optrede het verdere probleme voorkom:
# Sokker: Manchester City verslaan Bournemouth met 3-1 om ʼn stap nader te beweeg aan volgende seisoen se Kampioeneliga. Omar Marmoush, Bernardo Silva en Nico Gonzalez se doele het Pep Guardiola gehelp tot in die derde plek op die Premierliga-punteleer. Dan Jebbison het met die troosprys geslaag, maar Bournemouth se hoop om vir Europa se volgende seisoen te kwalifiseer, is verpletter. City het 68 punte met een wedstryd oor, wat twee meer is as Newcastle United, Chelsea en Aston Villa in die stryd om onder die topvyf te eindig en vir die Kampioeneliga te kwalifiseer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-982-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-304-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse opvoeder Nadine Smith het die 2025 EDGE in Tech Athena-toekenning vir vroeë loopbaanleierskap gewen. Smith is tydens ‘n spesiale seremonie by die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, vereer vir haar baanbrekerswerk in die transformasie van wetenskap-, tegnologie-, ingenieurswese- en wiskunde-onderwys om meer inklusief en toeganklik te wees. As ‘n koderings- en robotika-opvoeder by ADvTECH was sy een van slegs vier persone wêreldwyd wat die toekenning ontvang het en die enigste Afrika-onderwyser.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….