Nuus 08:00
BULLETIN 19 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die weermag verwerp berigte dat soldate in die DRK gestrand is
# Joe Biden is met ‘n aggressiewe vorm van prostaatkanker gediagnoseer
# En sokker: Suid-Afrika word vir die eerste keer as o.20 AFCON-kampioene gekroon
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het berigte ontken dat sy soldate sonder ondersteuning in Goma, in die Demokratiese Republiek die Kongo gestrand is. Volgens City Press het busse wat ‘n groep Suid-Afrikaners uit Goma moes vervoer, weens ʼn gebrek aan fondse nie opgedaag nie. Die SANW sê die onttrekking van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-afdeling aan die DRK verloop volgens plan en geen lid is gestrand of sonder ondersteuning nie.
# Die DA sê hy steun kunstenaars wat voel dat die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, hulle in die steek gelaat het. Volgens die party weerspieël toenemende betogings die groeiende frustrasie in die sektor, veral oor vertragings met die uitbetaling van Mzansi Golden Economy-befondsing. Joe McGluwa van die DA beskuldig McKenzie daarvan dat hy leë beloftes maak, aansoeke sonder verduideliking kanselleer, en kunstenaars in landelike gebiede en townships verwaarloos:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het die salarisse van 230 werknemers, 188 permanent en 42 deeltyds, gevries nadat hul indiensneming nie geverifieer kon word nie. Dis deel van die Ziveze-veldtog om spookwerkers uit te roei. Internasionaal maak spookwerkers sowat agt-persent uit van beroepsbedrogsake. LUR Nomantu Nkomo-Ralehoko het aan eNCA gesê diegene wat nie hul indiensneming kan bevestig nie, kan permanent van die betaalstaat verwyder word en strafregtelike klagte in die gesig staar:
# Oudpresident Joe Biden van Amerika is met ʼn aggressiewe vorm van prostaatkanker gediagnoseer wat na sy skelet versprei het. Die 82-jarige Biden is Vrydag gediagnoseer toe hy die dokter vir urienwegsimptome besoek het. Sy kantoor sê al is dit ʼn aggressiewe soort, is dit sensitief vir hormone en kan behandel word. Hy sê die oudpresident en sy familie oorweeg opsies vir behandeling. Prostaatkanker is naas velkanker die tweede algemeenste kanker onder mans.
# Sokker: Suid-Afrika het Marokko in Kaïro, Egipte, met 1-0 geklop om die eerste keer die Afrikanasies-beker se Onder 20-kampioene te word. Gomolemo Kekana se doel in die 70ste minuut het Amajita sy heel eerste vastelandtitel besorg. Suid-Afrika het die toernooi afgesluit met belangrike individuele toekennings. Tylon Smith is aangewys as beste speler en Fletcher Lowe as beste doelwagter nadat hy 24 doele in die toernooi afgeweer het. Nigerië is derde nadat hulle die gasheer, Egipte, 4-1 met strafdoele verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-314-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-225-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….