Nuus 08:00
BULLETIN 16 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die aanstellings van die voorsitters van die SETA-rade is teruggetrek
# ActionSA dien ‘n Wetsontwerp in oor die vermindering van kabinetsvoordele
# En sokker: Suid-Afrika se o.20-span is deur na die AFCON-eindstryd
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, het die onlangse aanstellings van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede se raadsvoorsitters onttrek. Dit volg na openbare teenkanting oor die insluiting van individue met ANC-bande. Dit sluit in minister Gwede Mantashe se seun, Buyambo, en die gewese KwaZulu-Natalse premier, Nomusa Dube-Ncube. Minister Nkabane sê die besluit is in belang van goeie regering en deursigtigheid om aanspreeklikheid in die aanstellingsproses te verseker. Sy sê ‘n nuwe onafhanklike paneel sal aangestel word om benoemings te verwerk en kandidate aan te beveel.
# ActionSA het amptelik die Wetsontwerp op Gevorderde Besnoeiing van Kabinetsvoordele ter tafel gelê, met die doel om 1.5-miljard-rand per jaar te bespaar deur die grootte en koste van die uitvoerende gesag te verminder. Die wetsontwerp sal poog om die president se uitsluitlike mag te beëindig om die ministeriële handboek te verander, parlementêre toesig af te dwing en te verseker alle wysigings word openbaar gemaak. Alan Beesley van ActionSA versoek elke vyf-jaar ‘n volledige hersiening van kabinetsvoordele:
# Die Vryheidsfront Plus sê Ekurhuleni se Departement van Finansies is op die rand van ineenstorting omdat 78-persent van sy belangrike poste tans vakant is. Die departement het onlangs onthul dat slegs 21,9-persent van alle goedgekeurde posisies gevul is, en slegs 12 van die 43 posisies in finansiële bestuur. Denise Janse van Rensburg van die VF Plus sê die personeelkrisis beteken Ekurhuleni het nie die interne vermoë om sy finansies behoorlik te bestuur en belastingbetalers se geld te beskerm nie:
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê hy verwag geen deurbraak in onderhandelinge oor die oorlog in Oekraïne voor president Donald Trump en sy Russiese eweknie, Vladimir Putin, mekaar nie persoonlik ontmoet nie. Oekraïne se president Volodymyr Zelensky het Rusland gekritiseer wat ʼn laevlak-afvaardiging na Turkye gestuur het vir onderhandelinge oor die oorlog, en beskuldig Putin dat hy nie ernstig is oor vrede nie. Rubio sê hy het nie veel hoop vir vandag se samesprekings nie:
# Sokker: Suid-Afrika is die eerste keer in 28 jaar deur na die Afrikanasiesbeker se Onder 20-eindstryd nadat hulle Nigerië in Ismailia, Egipte, met 1-0 verslaan het. ʼn Kophou deur Tylon Smith in die 66ste minuut het die sege beklink. Die uitslag beëindig Nigerië se hoop op ʼn agste agtereenvolgende AFCON-titel. Amajita kom Sondagaand in die eindwedstryd teen Marokko te staan nadat hulle Egipte in hulle halfeindstryd met 1-0 geklop het. Die Suid-Afrikaanse Onder 20-span gaan hul eerste vastelandstitel probeer opraap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-261-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-212-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….