Nuus 08:00
BULLETIN 5 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Outa eis die bedanking van Nzimande en die NSFAS-voorsitter
# Atletiek, die Lemnaeler sal na sy vrylating dalk nie kan meeding nie
# En, die Mary Poppins-aktrise Glynis Johns sterf
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, Outa, doen ‘n beroep dat die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande, en die voorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Ernest Khosa, bedank. Die organisasie het stem-opnames van twee vergaderings tussen Khosa en ‘n verteenwoordiger van ‘n diensverskaffer, Thulani Ntumba, onthul oor hoe diensverskaffers na bewering miljoene rande se gunsloon aan Nzimande en Khosa betaal het asook minstens een-miljoen-rand aan die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. Rudie Heyneke van Outa sê dit is gedoen in ruil vir tenders en beskerming vir diensverskaffers:
# Die African Transformation Movement het sy diepe kommer uitgespreek oor die onthulling van onreëlmatighede in SASSA se uitbetaling van maatskaplike toelaes. ATM sê die aangemelde gevalle van afgestorwe mense aan wie die toelaes verkeerdelik uitbetaal word, beklemtoon nie net die kwesbaarheid van die maatskaplike welsynstelsel nie, maar dra ook by tot korrupsie en wanadministrasie. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die onregmatige en vrugtelose uitgawes het in die 2023/2024-boekjaar meer as 31,9-miljoen-rand beloop. Hy sê dis onaanvaarbaar in ‘n land met ernstige fiskale beperkings:
# Die Departement van Binnelandse Sake het aangekondig sy stelsel is weer aanlyn ná ʼn tegniese probleem by die staatsagentskap vir inligtingstegnologie, SITA. Die agentskap verskaf IT-dienste aan liggame in die openbare sektor. Interne ondersoeke is ingestel om die krisis aan te spreek. Die departement se woordvoerder, Siyabulela Qoza, sê dienste aan landsburgers en ander kliënte is nou beskikbaar:
# Atletiek: Die regsontleder Mpumelelo Zikalala twyfel oor Oscar Pistorius se terugkeer na mededingende sport. Zikalala het op 702 gesê as die voormalige Paralimpiese kampioen sou wou terugkeer na die baan, sal hy toestemming van die Paroolraad moet kry. Die man bekend as die Lemnaeler word na verwagting vandag uit die Atteridgeville Korrektiewe Sentrum in Tshwane op parool vrygelaat. Hy het agt jaar van sy vonnis van 13 jaar vir die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, in 2013 uitgedien. Zikalala sê die paroolproses is gemik op rehabilitasie en nie finansiële gewin nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-426-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-45-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Glynis Johns, die aktrise wat die rol van Mrs Banks vertolk het in die 1964-rolprent, Mary Poppins, is dood. Die Britse aktrise wat in Suid-Afrika gebore is, was 100 jaar oud. Haar bestuurder sê sy is Donderdag by ʼn versorgingsoord in Los Angeles aan natuurlike oorsake dood. Johns was veral bekend vir haar verskyning in Mary Poppins, waarin sy Mrs Winifred Banks was, die ma wat met haar kinders herenig danksy Julie Andrews se magiese kinderoppasser. Mary Poppins het uit 13 benoemings vyf Oscars gewen en is steeds een van Walt Disney se gewildste flieks.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….