Nuus 08:00
BULLETIN 13 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Afrikanervlugtelinge het in die VSA aangekom
# Minister Kubayi vra vir strenger sekerheid by howe
# En sokker: Suid-Afrika se o.20-manspan het gekwalifiseer vir die Wêreldbeker in Chili
# Die eerste groep wit Afrikaners aan wie president Donald Trump vlugtelingstatus toegeken het, het in Amerika aangekom. Die adjunkminister van Buitelandse Sake, Christopher Landau, en adjunkminister van Binnelandse Veiligheid, Troy Edgar, het hulle by die Washington Dulles Internasionale Lughawe in Virginië ontmoet. Landau sê president Trump het dit duidelik gestel die vlugtelingaansoeke vir Suid-Afrika se Afrikaner-minderheid is uitgevoer omdat hulle slagoffers van rassediskriminasie is:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê sekerheidsprotokolle by alle hofgeboue moet onmiddellik versterk word. Dit volg nadat ‘n KwaZulu-Natalse hofbeampte Maandagoggend by die Melmoth-landdroshof ʼn beskuldigde doodgeskiet het wat sy kollega se vuurwapen gegryp het. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê die departement het met sy eie interne hersiening van howe se veiligheidsmaatreëls begin:
# Die Departement van Binnelandse Sake het met die proses begin om slim-ID’s vir genaturaliseerde burgers en permanente inwoners van visumvrye lande uit te reik. Die stelsel is bestendig, met ‘n hoë landswye opname. Slegs aansoekers met groen strepieskode-ID’s van visumvrye lande word tans bygestaan as gevolg van die hoë volumes. Die Departement sal mense in kennis stel wanneer aansoeke oopmaak vir lande wat nie vrygestel is nie. Die Departement sê hierdie stap is daarop gemik om ID-sekerheid en toeganklikheid te verbeter.
# Die Palm Ridge-landdroshof het beslis die bekentenis van Lawrance Sithebiso Mdlalose, wat beskuldig word dat hy die brand in die Usindiso-gebou in Johannesburg gestig het, mag as getuienis toegelaat word. Die 30-jarige Mdlalose het in Januarie verlede jaar erken hy was verantwoordelik vir die brand wat in 2023 deur die Usindiso-gebou gewoed en 76 mense se dood veroorsaak het. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Phindi Mjonondwane, sê hy staar 76 aanklagte van moord, een van brandstigting en 12 van poging tot moord in die gesig:
# Sokker: Suid-Afrika se nasionale Onder-20-manspan het die Demokratiese Republiek die Kongo met 1-0 verslaan om hul plek in die Afrikanasiesbeker se halfeindronde te verseker. Thabang Mahlangu het die wedstryd se enigste doel in die 105de minuut aangeteken om die sege te beklink. Die Amajitas se oorwinning beteken dat hulle vir die FIFA Onder-20-wêreldbeker kwalifiseer wat van 27 September tot 19 Oktober in Chili aangebied word. Nigerië, Marokko en Egipte het ook gekwalifiseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-811-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-234-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….