Nuus 08:00
BULLETIN 11 May 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Schreiber verklaar die Nigeriese televisie-evangelis Timothy Omotoso as ‘n verbode persoon
# Cosatu sê Suid-Afrika ervaar die snydende koste van staatskaping
# En Sokker: Die Chiefs wen die Nedbankbeker en bring na 10 jaar ‘n einde aan sy trofee-droogte
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het die Nigeriese televisie-evangelis Timothy Omotoso as ‘n onwettige persoon in Suid-Afrika verklaar. Die departement se woordvoerder, Siya Qoza, sê Omotoso het vroeër sy status as ‘n verbode persoon in die hof betwis, en die hof het beslis sy status moet na die departement terugverwys word vir heroorweging. Qoza sê Omotoso is in Oos-Londen in die Oos-Kaap in hegtenis geneem, nadat hy probeer het om die departement se vroeëre aansoek wat hom as ‘n verbode persoon verklaar het, tersyde te laat stel:
# Cosatu het President Cyril Ramaphosa se ernstige oproep op die Parlement verwelkom om te sorg dat die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting aan al die grondwetlike vereistes voldoen. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê Suid-Afrika ervaar steeds die snydende koste van staatskaping, korrupsie en magsmisbruik, en kan nie bekostig dat so ‘n fundamenteel gebrekkige wetsontwerp wet word nie. Hy sê hulle sal met die Parlement in verbinding bly om te verseker dat die waardes van die Grondwet seëvier:
# Die Polisie- en Gevangenisse se Burgerregte-unie sê polisie-opleidingsinstellings moet veilige ruimtes wees waar dissipline, etiek en professionaliteit gekweek word. ‘n Polisie-instrukteur is in hegtenis geneem en uit die SAPD-opleidingsakademie in Tshwane verwyder na die beweerde verkragting van ‘n vroulike student. POPCRU-woordvoerder, Richard Mamabolo, sê daar is vele toegewyde, gedissiplineerde instrukteurs regoor die land wat steeds met integriteit dien, en die optrede van een individu mag nie hul toewyding ondermyn nie:
# President Donald Trump van Amerika se administrasie oorweeg die opskorting van die habeas corpus, oftewel die reg van ‘n persoon om sy aanhouding in die hof te betwis. Die adjunk-stafhoof van die Withuis, Stephen Miller, het aan verslaggewers gesê Amerika se Grondwet voorsien vir die opskorting van regsvryheid tydens ‘n rebellie of inval. Verskeie siviele sake is hangend teen Trump se deportasie van ongedokumenteerde migrante weens habeas corpus. Trump het nie self die opskorting van habeas corpus genoem nie, maar gesê hy sal stappe doen om interdikte teen sy optrede oor deportasie te verhoed.
# Sokker: Kaizer Chiefs het hul aartsvyande Orlando Pirates met 2-1 in die Nedbankbeker-finaal op die Moses Mabhida-stadion verslaan en daarmee ‘n dekade lange trofee-droogte beëindig. Kaptein Yusuf Maart het ‘n laat doel aangeteken en ‘n oorwinning vir Amakhosi verseker, wat vroeg die voortou geneem het met ‘n strafskop deur Gaston Sirino. Pirates het die telling egter sewe minute later gelykgemaak met ‘n kopskoot deur Evidence Makgopa. Dit is die Chiefs se eerste groot trofee sedert 2015, terwyl die Buccaneers nie hul eie rekord van ‘n driekuns van Nasionale Beker-oorwinnings kon ewenaar nie.
# En ten slotte: Die Kaapstad 10K padwedloop vind vandag vir die tiende keer plaas en ongeveer 15-duisend mense sal die strate invaar, van Woodbridge-eiland in Milnerton tot Laer Langstraat in die middestad. Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê atlete sal ikoniese uitsigte oor Tafelberg geniet terwyl hulle langs die kuslyn, op die N1 en in die energieke stadskom draf. Die wedloop begin om 9-uur vanoggend:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….