Nuus 08:00
BULLETIN 9 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wens die nuwe Pous ‘n transformerende ampstermyn toe
# BOSA verwelkom Paul Mashatile se steun vir skoolhoofde se toegang tot die Seksuele Oortredersregister
# En meer as 150 Gautengse regeringsamptenare doen sake met die staat
# President Cyril Ramaphosa sê die verkiesing van Pous Leo die 14de is ‘n diepgaande oomblik vir die Katolieke Kerk en die wêreldgemeenskap. Robert Prevost is die eerste Amerikaanse pous wat die Katolieke Kerk lei. Ramaphosa sê die pous se vorige klem op vrede is ‘n oproep wat by ‘n groot deel die mensdom aanklank vind en die nalatenskap van wyle Pous Franciskus eer. Hy sê Suid-Afrika wens die pous ‘n geseënde en transformerende pousdom toe wat geloof, eenheid en solidariteit wêreldwyd sal versterk.
Die DA-leier John Steenhuisen sê intussen die verkiesing van Pous Leo die 14de is ‘n tydige herinnering aan almal, veral diegene wat ‘n verkose amp beklee, dat leierskap min beteken indien geen groter sending gedien word nie. Steenhuisen sê om verkies te word, beteken om met deernis, beginselvastheid en toewyding te dien. Hy wens ook die nuwe Pous sterkte toe.
# Build One South Africa verwelkom adjunk-president, Paul Mashatile se verbintenis om ondersoek in te stel na die openbaarmaking van die Nasonale Register vir Seksoortreders aan skoolhoofde tydens die aanstellingsproses van onderwysers. Slegs 19-persent van onderwysers in die land se aanstellings is teen die register nagegaan wat beteken dat meer as 80-persent van onderwysers nie gekeur is nie. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê kinders verdien veilige skole en onderwysers wat vertrou kan word:
# Die Gautengse Etiekadviesraad het bevind dat meer as 150 amptenare in die provinsiale regering sake met die staat doen, ondanks die feit dat dit ‘n strafregtelike oortreding is. Die raad, wat in 2017 in die lewe geroep is en oorsig en integriteit in die provinsiale regering bevorder, het sy tweejaarlikse verslag oor die stand van etiek gister bekendgemaak. Die raadsvoorsitter, Solomuzi Mabuza, sê die meeste van die klagtes aan departemente gaan oor aanstellingsonreëlmatighede, wanadminstrasie, korrupsie, verkrygingsonreëlmatighede en onetiese gedrag.
# Sokker: Manchester United kom op 21 Mei teen Tottenham Hotspurs in die eindstryd van die Europaliga in Bilboa, Spanje te staan. Twee doele deur Mason Mount van United, wat met een doel agter was, het aan sy span die oorwinning van 4-1 teen Athletic Club besorg in hulle tweede halfeindstryd-ontmoeting op Old Trafford. United het met 7-1 volgens doelgemiddelde gewen. Tottenham het deurgedring na hulle eerste Europese eindstryd in ses jaar deur Bodø/Glimt met 2- 0 te klop. United se bestuurder, Ruben Amorim sê dit is baie spesiaal om die eindstryd te haal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-en-640-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-300-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………..