Nuus 08:00
BULLETIN 7 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum verwelkom die Konstitusionele Hof se uitspraak oor burgerskap
# Die adjunkminister van Polisie sal vandag die familie van die vermiste joernalis besoek
# En Donald Trump sê die VSA gaan sy veldtog teen die Houthi’s in Jemen staak
# AfriForum het die Konstitusionele Hof se bevestiging van ‘n 2023-bevel deur die Appèlhof verwelkom, dat ‘n artikel van die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap, Wet 88 van 1995, ongrondwetlik en ongeldig is. Die bepaling het bepaal dat Suid-Afrikaanse burgers outomaties hul burgerskap verloor as hulle vrywilliglik burgerskap van ‘n ander land verkry het. Sue-Ann de Wet van AfriForum sê die Konstitusionele Hof se beslissing is ‘n mylpaal vir duisende Suid-Afrikaners in die buiteland:
# ActionSA sê hy stuur vandag sy waagmoedige inisiatief van stapel om Suid-Afrika se ekonomiese transformasie-agenda te herskik tot werklike en blywende regstelling. Die partyleier Herman Mashaba lei die bekendstelling by die Apartheidsmuseum in Ormonde, suid van Johannesburg. Die party se woordvoerder, Matthew George, sê na 31 jaar van demokrasie, is die belofte van betekenisvolle verandering steeds onvervuld vir baie voorheen benadeelde gemeenskappe:
# Die adjunkminister van Polisie, Polly Boshielo, ontmoet vandag die families van die vermiste joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat Zodwa Mdhluli by die KwaMhlanga-polisiestasie in Mpumalanga. Sy sal vergesel word deur die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola. Die polisie soek steeds na die paartjie wat meer as twee maande gelede laas in Mamelodi, oos van Pretoria, gesien is. Vier verdagtes wat met die saak verbind word is reeds in hegtenis geneem en aangekla van kaping en ontvoering. Een van die verdagtes sal vandag in die hof verskyn.
# President Donald Trump sê die VSA gaan die bomaanvalle teen die Iran-gesteunde Houthi-rebellegroep in Jemen staak. Dit is nadat die groep ingestem het om op te hou om skepe in die Rooi See te teiken. Die VSA het in Maart lugaanvalle op die Houthi’s verskerp, met die weermag wat verklaar het dat hulle sedertdien duisend teikens in Jemen aangeval het. Oman sê hy het ‘n wapenstilstandooreenkoms tussen die Houthi’s en die VSA bemiddel. Trump sê dit is ‘n belangrike ontwikkeling:
# Krieket: Die Gujurat Titans het die Mumbai Indians met drie paaltjies ingevolge die Duckworth-Lewis-Stern-metode geklop en is nou boaan die Indiese Premierliga se punteleer. Mumbai het 155 vir agt aangeteken. Gujarat het sy aanvanklike lopiejaagtog met ‘n tweede paaltjie vennootskap van 72 tussen kaptein Shubman Gill en Jos Buttler begin. Met talle reënonderbrekings is die teiken tot 147 vanaf 19 boulbeurte verlaag. In die finale boulbeurt het Gujarat 15 lopies gekort en Rahul Tewatia en Arshad Khan het met die laaste bal die wedstryd in hulle guns beklink.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-436-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-374-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….