Nuus 08:00
BULLETIN 6 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê moderne tegnologie moet gebruik word om korrupsie te bestry
# Minister Macpherson herdenk die George-gebouramp
# En motorsport: Twee jaers sterf in ‘n ongeluk tydens die Britse Superfiets-wedren
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê as staatskaping toegelaat was om onverpoosd voort te gaan, sou Suid-Afrika tot ‘n mislukte staat gereduseer gewees het. Sy het gister die 15de Statebond-streekkonferensie vir Afrika-hoofde van teen-korrupsie-agentskappe in Kaapstad toegespreek. Die minister sê korrupsie, ongeag die ingewikkelde aard daarvan, word deur mense gepleeg. Kubayi sê moderne tegnologie soos kunsmatige intelligensie moet deel word van metodes om korrupsie te voorkom en te bestry:
# Die African Media and Communicators Forum en die Nasionale Persklub verwelkom die deurbraak in die saak van die vermiste joernalis Sibusiso Aserie Ndlovu en sy vriendin Zodwa Mdhluli. Vier mense is in hegtenis geneem in verband met die verdwyning van die paartjie. Ndlovu, die stigter van Capital FM Live is die laaste keer gesien toe hy sy werkplek in Mamelodi verlaat het, terwyl Mdhluli laas op 18 Februarie in KwaMhlanga opgemerk is. Die woordvoerder van die Nasionale Persklub, Antoinette Slabbert, sê die jongste ontwikkeling kom nie as ‘n verrassing nie:
# Die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, herdenk vandag die gebouramp in George van ‘n jaar gelede. Vyf-en-dertig mense is dood en 28 beseer toe die gebou ineengestort het. Macpherson gaan voor die seremonie in die stadsaal privaat met die slagoffers se naasbestaandes praat oor die ondersoekproses. Sy departement finaliseer ook ‘n verslag oor professionele aanspreeklikheid in die bou-omgewing.
# Rwanda se minister van Buitelandse Sake, Olivier Nduhungirehe, het bevestig dat hulle in die vroeë stadiums van gesprekke is om immigrante wat uit die VSA gedeporteer is, te ontvang. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het verlede week gesê hy soek na meer lande om mense in te neem. Dit volg te midde van verskerpte pogings van president Donald Trump se administrasie om immigrante wat die VSA sonder dokumente binnegekom het, en ander nie-burgers te deporteer. Nduhungirehe sê die regering se ingesteldheid is om nog ‘n kans te gee aan migrante wat wêreldwyd probleme ondervind.
# Motorsport: Twee renjaers is dood en ‘n ander het ernstige beserings opgedoen na ‘n ongeluk tydens ‘n Britse Supersport-kampioenskapwedren by Oulton Park in Cheshire, Engeland. Owen Jenner en Shane Richardson het noodlottige beserings opgedoen in ‘n ongeluk waarby 11 motorfietse in die eerste draai van die eerste rondte betrokke was. Tom Tunstall is na die hospitaal oorgeplaas met ernstige rug- en buikbeserings, terwyl vyf ander ryers op die baan behandel is vir geringe beserings. Die Motorfiets-baanrenbeheerraad en MotorSport Vision Racing stel ondersoek in na die omstandighede van die voorval.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-en-303-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-365-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….