Nuus 08:00
BULLETIN 29 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Firoz Cachalia sê die veiligheid van die betogers en die breër publiek is baie belangrik
# Generaal-majoor Feroz Khan is in die hospitaal nadat hy in Houghton geskiet is
# En 33 mense is lewend uit die puin gehaal terwyl reddingspogings in Venezuela voortduur
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê goeie beplanning, duidelike kommunikasie en doeltreffende koördinering sal van kritieke belang wees om die veiligheid van betogers én die breër publiek te verseker. Betogings teen immigrasie sal môre regoor die land plaasvind, om ongedokumenteerde buitelandse burgers te vra om Suid-Afrika te verlaat. Intussen het die regering herhaal môre word as ‘n normale werksdag beskou, en waarsku enige intimidasie, geweld of ontwrigting sal met die volle mag van die reg hanteer word. Cachalia sê die regering pak onwettige immigrasie aan:
KwaZulu-Natal se premier, Thami Ntuli, het intussen ook gewaarsku dat mense wat beplan om môre se betogings teen immigrasie te gebruik om die provinsie soos in 2021 in chaos te dompel, met die volle mag van die reg te doen sal kry. Meer as 300 mense is tydens die 2021-onluste in dié provinsie en Gauteng dood toe winkels geplunder of vernietig is. Ntuli sê hulle werk saam met die polisie om seker te maak daar is geen ruimte vir opportunisme of ‘n gaping vir misdadigheid nie:
# Die adjunk- Misdaadintelligensiehoof, Feroz Khan, is in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal nadat hy na bewering gisteraand in Houghton, Johannesburg, geskiet is. Hy het volgens berigte in Derde Laan gery toe hy deur gewapende mans in ‘n wit Mercedes-Benz gekonfronteer is. Twee skote is skynbaar gevuur en hy is na bewering in die onderlyf getref. Khan, wat saam met die hoof van die Valke in Gauteng, Ebrahim Kadwa, teregstaan op aanklagte oor die onwettige handel en besit van edelmetale, was veronderstel om Woensdag voor die Madlanga-kommissie te getuig.
# Dae nadat Venezuela deur twee kragtige aardbewings getref is, word verhale van wonderwerke vertel. Die waarnemende president Delcy Rodríguez, het bevestig dat 33 mense die naweek lewend uit die puin gered is. Dit sluit ʼn baba, twee elfjarige seuns en ʼn 60-jarige vrou in. Minstens een-duisend-430 mense is dood sedert die aardbewings van 7,2 en 7,5 Venezuela verlede Woensdag getref het, terwyl drie-duisend-238 beseer is. Rodríguez sê hulle het van 24 lande ondersteuning ontvang wat 521 ton voorrade, 86 honde-eenhede en meer as twee-duisend lede van soek-en-reddingseenhede insluit.
# Motorsport: George Russell van Mercedes se wedren by die Oostenrykse Grand Prix het in die voorste wegspringplek begin en met ʼn oorwinning geëindig. Dis sy eerste sege sedert die wedren-seisoen in Australië begin het. Max Verstappen van Red Bull het tweede geëindig voor Russell se spanmaat, Kimi Antonelli. Oscar Piastri van McLaren was vierde en die Ferrari-renjaer, Lewis Hamilton, was vyfde. Russell, wie se kampioenskap-agterstand teen Antonelli tot 40 punte verminder het, sê dit voel goed om weer te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-785-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en 69-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….