Nuus 08:00
BULLETIN 4 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SA Jews for a Free Palestine verwelkom die regering se saak teen Israel by die Wêreldhof
# Prins Andrew, Trump en Clinton word in Epstein-hofdokumente genoem
# En, veerpyltjies: Luke Littler verloor teen Luke Humphries in die Wêreld-veerpyltjiekampioenskap se eindronde
# South African Jews for a Free Palestine het Suid-Afrika se voorlegging by die Wêreldhof verwelkom as deel van die taktiek om volgens hom Palestyne te bevry en die volksmoord in Gaza te beëindig. Die organisasie sê hy veroordeel die gewelddadige skending van die Joodse geloof en die manier waarop dit gebruik word om apartheid en volksmoord te ondersteun. Hy sê hy hoop om ‘n onmiddellike skietstilstand te sien asook die einde van die volksmoord en die aftakeling van die apartheid-, setlaar-, koloniale Sionisme-projek in Palestina. Die eerste verhoor in Den Haag word vir 11 en 12 Januarie beplan.
# Die African Transformation Movement het die wydverspreide en geslepe beskermingsfooi-verskynsel wat deur mafias en sindikate bedryf word, ten sterkste veroordeel. Die misdadigers teer genadeloos op sakeondernemings, privaat huishoudings en voertuigeienaars reg oor Suid-Afrika. Die uitwerking van hierdie afpers-bendes op beide groot en klein nywerhede se omvang is tans reusagtig en skep ʼn ongekende bedreiging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die party betreur die swaar las wat hierdie misdadigheid op die lewensbestaan van gewone landsburgers en die groter ekonomiese landskap plaas:
# Die Padvragvereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê die vereniging is steeds bekommerd oor die globale faktore wat druk plaas op petroleum-gebaseerde brandstof en op die oomblik lyk dit asof dit die prys laat daal. Kelly sê Suid-Afrika se grootste uitdaging is om die rand se waarde teenoor die dollar te verander, want dit is die geldeenheid waarin die land tans petroleum-gebaseerde brandstofprodukte aankoop:
# Prins Andrew en die voormalige presidente Bill Clinton en Donald Trump se name word genoem in hofdokumente van mense wat verbind word met die seksoortreder en berugte finansier, Jeffrey Epstein. ‘n New Yorkse federale regter het die bekendmaking beveel van dokumente wat deel is van ‘n hofsaak wat verband hou met Epstein se vennoot, Ghislaine Maxwell. Sommige van die genoemdes word van oortredings beskuldig terwyl andere op die lys beskuldigings gemaak het of moontlike getuies is. Epstein is in 2019 in die tronk oorlede. Sy dood terwyl hy verhoorafwagtend was op federale sekshandel-aanklagte, is deur ‘n New Yorkse mediese ondersoekbeampte as selfdood verklaar.
# Veerpyltjies: Die tiener en veerpyltjiesensasie, Luke Littler, het nie sy sprokies-oorwinning by die Wêreld-veerpyltjiekampioenskap behaal nie nadat hy in die eindronde teen Luke Humphries verloor het. Die 16-jarige Littler het ʼn paar skitterende gooie gehad soos dié wat hom in die eindronde gebring het, maar Humphries, die wêreld se nommer een, het teruggeveg om met die titel en prysgeld van meer as 11,8-miljoen-rand weg te stap. Littler, wat ook as The Nuke bekend is, sal ná sy ongelooflike veldtog steeds 4,7-miljoen-rand in sy sak steek. Hy het Woensdagaand probeer om die jongste wêreld-veerpyltjiekampioen in die geskiedenis te word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-154-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-42-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-58-sent per vat.