Nuus 08:00
BULLETIN 2 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verdedig die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming
# Die EFF gaan vandag opruk na die wit Afrikaner-woongebied Kleinfontein
# En die SANW begin met die onttrekking van sy soldate uit die DRK
# President Cyril Ramaphosa het die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming verdedig en sê dit wil regstel wat apartheid aan die land gedoen het. Die DA daag die wet se indiensnemingskwotas uit en sê dis bloot rasse-uitsluiting onder ‘n nuwe naam. Die wet skryf aanstelkwotas voor vir 18 ekonomiese sektore om indiensneming van aangewese groepe te vermeerder. Ramaphosa sê die wet is volgens die Grondwet se bepalings:
# Die SAKP sê sy besluit om aan die 2026 plaaslike-regeringverkiesing deel te neem is nie om eng party-politieke redes nie, maar ʼn regstreekse reaksie op die krisis van werkersklas-verteenwoordiging. Die SAKP gaan die eerste keer buite sy vennootskap met die ANC aan ʼn verkiesing deelneem. Hy sê besluite oor die ekonomie en samelewing word al jare lank geneem sonder om met die werkersklas te beraadslaag. Die SAKP sê hy wil ʼn program van demokratiese mag bevorder wat op die belange van werkers en armes gebaseer is.
# Die EFF in Gauteng sê hy het besluit om vandag ‘n optog te hou na die Afrikaanse gemeenskap Kleinfontein naby Pretoria. Die Gautengse Hooggeregshof het Kleinfontein verlede jaar as onwettige nedersetting verklaar wat nie aan die Tshwane-munisipaliteit se regulasies vir grondgebruik voldoen nie. Dumisani Baleni van die EFF sê die optog is ‘n optrede van revolusionêre verset teen die voortbestaan van rasseskeiding en ekonomiese uitsluiting wat in ‘n demokratiese tydperk in Kleinfontein voorkom:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê hy het begin om sy personeel en toerusting in fases uit die oostelike Demokratiese Republiek die Kongo te onttrek. Dit volg na ʼn bevel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Die SANW het verlede maand besluit om sy magte uit die DRK te onttrek nadat 17 soldate in gevegte met die Rwandees-ondersteunde M23-rebelle dood is. Die weermagwoordvoerder, Prince Tshabalala, sê die onttrekking sal in fases plaasvind:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een Aryna Sabalenka en Coco Gauff takel mekaar môre in die Madrid Ope-eindstryd. Sabalenka van Belarus het Elina Svitolina van Oekraïne in die halfeindronde verslaan terwyl Gauff die heersende kampioen van Pole, Iga Swiatek afgeransel het. In die mansafdeling het die Noorweër, Casper Ruud, die Rus Daniil Medvedev geklop om die halfeindronde te haal waar hy vandag teen die Argentyn, Francisco Cerundolo, kragte meet. Die Britse nommer een, Jack Draper, het die Italianer, Matteo Arnaldi, verslaan en takel in die halfeindronde sy landgenoot, Lorenzo Musetti.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-495-sent teen die dollar, 20-rand-90-sent teen die euro en 24-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-en-106-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-249-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….