Nuus 08:00
BULLETIN 30 April 2025
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die bilaterale betrekkinge tussen Suid-Afrika en Botswana is sterk
# Verbruikers word aangemoedig om seker te maak dat hulle die korrekte BTW-koers betaal
# En tennis: Medvedev en Sabalenka is deur na die kwarteindronde in Madrid
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika en Botswana wil handel, belegging en goeie internasionale verhoudinge bevorder. Hy het Botswana se president, Duma Boko, Woensdag by Mahlamba Ndlopfu, sy ampswoning in Pretoria, ontvang. Ramaphosa sê bilaterale betrekkinge tussen die twee lande is sterk en dek samewerking oor ‘n wye spektrum, insluitend politiek, ekonomie, die omgewing, wetenskap en tegnologie, maatskaplike gebied, verdediging en sekerheid:
# Die Parlement hou vol die prosesse wat gevolg is om die 2025 fiskale raamwerk te aanvaar, was nie onwettig en volgens verkeerde prosedures nie omdat hulle die Grondwet nagekom het. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het Nasionale Tesourie beveel om van voor af te begin nadat hy die fiskale raamwerk tersyde gestel het. Dit volg nadat die BTW-verhoging van 0,5-persent omgekeer is. Die parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, sê hulle werk aktief saam met die regering om ʼn datum vas te stel waarop die hersiene nasionale begroting ingedien moet word:
Die regering moedig verbruikers intussen aan om seker te maak hulle betaal van môre af die regte BTW-koers van 15-persent op alle produkte en dienste. Die woordvoerder van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel, Kgomotso Ranoto, sê handelaars moet volgens die BTW-wet 15-persent hef en nie 15,5-persent nie:
# Die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, sê die tydige afhandeling van toelaes vir tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding, en die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, is noodsaaklik vir ʼn eenvoudige en deursigtige befondsingsproses. Dit volg na onlangse vertragings met uitbetalings van TVET-studente se toelaes. Dit sou op 25 April plaasvind, maar is deur ʼn stelselprobleem vertraag. Nkabane sê die skema gee voorkeur aan afhandeling van alle uitstaande betalings van 2024 aan studente en verblyfverskaffers.
# Tennis: Die Argentyn, Francisco Cerundolo, het die topgekeurde Alexander Zverev van Duitsland verslaan om die Madrid Ope se kwarteindronde te haal. Die negende gekeurde Rus, Daniil Medvedev, is deur na die laaste agt nadat hy met die Amerikaner, Brandon Nakashima, afgereken het. Casper Ruud van Noorweë het die Amerikaner, Taylor Fritz geklop. In die vroueafdeling is die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, deur na die kwarteindronde ná ʼn sege oor Peyton Stearns van Amerika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 21-rand-10-sent teen die euro en 24-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-790-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-306-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….