Nuus 08:00
BULLETIN 28 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die hofuitspraak oor die opskorting van BTW is ‘n sege vir alle Suid-Afrikaners
# Gwede Mantashe sê Suid-Afrika is steeds verbind tot ‘n progressiewe buitelandse beleidstandpunt
# En, Atletiek: Elroy Gelant verpletter die Suid-Afrikaanse marathon-rekord in Hamburg
# Die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, sê die Wes-Kaapse Hooggeregshof-uitspraak dat ‘n BTW-verhoging amptelik opgeskort moet word, is ‘n sege vir alle Suid-Afrikaners. Sy sê die besluit verseker dat veranderinge aan die BTW-koers behoorlik deur die parlement goedgekeur moet word voordat dit in werking tree. Die DA-woordvoerder, Willie Aucamp, sê die party verwelkom die uitspraak en sal sy stryd voortsit vir, en met alle Suid-Afrikaners vir ‘n ekonomie wat groei en werk skep:
# Die waarnemende president, Gwede Mantashe, sê Suid-Afrika is steeds verbind tot ‘n progressiewe buitelandse beleid-standpunt, en om met lande van die Globale Noorde en die Globale Suide saam te werk vir die nasionale belang. Mantashe het tydens die Vryheidsdagviering in Ermelo in Mpumalanga gepraat. Hy sê Suid-Afrika is sy bevryding te danke aan die talle wêreldlande wat hom tydens die bevrydingstryd ondersteun het:
# Die Activists and Citizens Forum sê hy verwerp geheel en al die oproepe om die bedanking van die Minister van Finansies, Enoch Godongwana. Godongwana het verlede week aangekondig die 0,5 persent BTW-verhoging word teruggetrek. Woordvoerder van die Forum, Dennis Bloem, sê in plaas van Godongwana, doen hulle ’n beroep dat die hele Parlement ontbind word en nuwe verkiesings gehou word:
# Elf mense is in Vancouver, Kanada, dood toe ‘n voertuig by ‘n straatfees tussen ‘n skare ingeploeg het. Die polisie sê ‘n 30-jarige inwoner van Vancouver wat aan hulle bekend is, is op die toneel in hegtenis geneem nadat omstanders ingegryp het. Die woordvoerder van die Vancouver-polisie, Steve Rai, sê tientalle mense is beseer, van wie verskeie ernstig, en die dodetal kan styg. Hy het dit beskryf as die donkerste dag in die stad se geskiedenis, maar sê hy glo werklik nie die voorval was ‘n terreurdaad nie.
# En atletiek, Elroy Gelant het Sondag die 31 jaar oue Suid-Afrikaanse marathonrekord in Hamburg, Duitsland, verpletter. Gelant was vierde in die Hamburg-marathon en het die 42,2kilometer in 2-uur-5-minute-en-36-sekondes voltooi. Die 38-jarige Gelant, ‘n voormalige SA-rekordhouer in die vyfduisend-meter, het die rekord wat Gert Thys in 1999 in Tokio opgestel het met byna ‘n minuut verbeter. Gelant het ook sy persoonlike beste tyd verbeter en vir die marathon op die Wêreld-atletiekkampioenskappe in September in Tokio gekwalifiseer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….