Nuus 08:00
BULLETIN 26 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party dien ’n mosie van wantroue in teen minister Godongwana
# Solidariteit vra ’n sperdatum vir die beëindiging van rasgegronde wette
# En sokker, Sundowns is deur na CAF-kampioenskapsliga maar Pirates val uit
# Die MK-party het ‘n amptelike mosie van wantroue teen die minister van Finansies, Enoch Godongwana, by die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza, ingedien. Die party voer aan die minister het die BTW-kwessie roekeloos en verkeerd hanteer. Godongwana het die omstrede BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte Woensdag geskrap. Die MK-party sê die minister se versuim om duidelikheid en leierskap oor die BTW-kwessie te toon, het verwarring gesaai in markte, paniek onder armes en klein ondernemings veroorsaak en onsekerheid in ʼn reeds swak ekonomie gebring.
# Solidariteit sê dit is tyd dat die regering ’n sperdatum stel vir die uitfasering van rasgebaseerde wette soos Swart Ekonomiese Bemagtiging. Die vakbond vra vir dringende gesprekke om rasgebaseerde beleid te vervang met strategieë wat werkskepping en ekonomiese groei bevorder. Connie Mulder van Solidariteit sê die meeste Suid-Afrikaners, oor alle rassegroepe heen, ondersteun nie meer hierdie beleide nie, wat slegs ‘n politieke elite bevoordeel en min doen om werkloosheid, armoede en ongelykheid aan te spreek:
# Die portefeuljekomitee oor Gesondheid in die Parlement sê hulle wag op verslae oor twee brande by die Tembisa-hospitaal in Gauteng, om uit te vind of brandstigting die oorsaak was. Die voorsitter, Sibongiseni Dhlomo, het kommer uitgespreek oor die hospitaal se nakoming van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid. Hy was by die hospitaal en het gesê amptenare ondersoek die instelling se veiligheidsmaatreëls:
# Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram sê al sy voedselvoorrade vir Gaza is opgebruik. Dit volg nadat Israel die aflewering van humanitêre hulp die afgelope sewe weke blokkeer. Die VN sê hy het sy laaste voedselvoorraad aan koskombuise in Gaza gelewer en voeg by kos by hierdie kombuise sal in die komende dae opraak. Die organisasie sê meer as 116-duisend metrieke ton voedselhulp is by toegangsroetes en gereed vir aflewering sodra die grense oopgemaak word.
# Sokker: Mamelodi Sundowns het sy plek in die Konfederasie van Afrika-sokkerkampioeneliga se eindronde bespreek na ʼn een-elk-gelykopstryd teen Al Ahly in Kaïro. Die Egiptenare het in die 23ste minuut danksy Taher Mohamed ʼn voorsprong behaal. Yasser Ibrahim se eie doel in die 90ste minuut het sake vir Masandawana gelykop gemaak. Sundowns het die eerste keer sedert 2016 volgens die wegdoelreël ʼn plek in die eindronde verseker. Intussen het Fiston Mayele twee doele aangeteken met Pyramids wat Orlando Pirates met 3-2 verslaan en op hul totale punte die eindronde haal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….