Nuus 08:00
BULLETIN 25 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê hulle het hul opwekkingsvermoë herstel
# Die Vereniging van Staatsamptenare doen ‘n beroep op ekonomiese groei
# En die Israelse weermag erken hulle is verantwoordelik vir die dood van ‘n VN-werker in Gaza
# Eskom sê fase-twee beurtkrag wat gistermiddag weens verlies aan opwekkingseenhede en ‘n groter as verwagte aanvraag ingestel is, is teen middernag opgehef. Dit volg na die herwinning van sowat twee-duisend-en-15 megawatt se opwekkingsvermoë, ‘n verwagte afname in aanvraag en voldoende noodreserwes. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hulle sal later vandag die jongste stand van sake bekend maak:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die regering moet billiker en meer volhoubare maniere ondersoek om die land se fiskale probleme op te los. Dit volg nadat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, die BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte geskrap het. Claude Naiker van die vakbond sê Godongwana moet voorkeur gee aan beleide wat ekonomiese groei en maatskaplike geregtigheid bevorder, eerder as maatreëls wat onnodige druk op die armes en werkersklas plaas:
# Die Vryheidsfront Plus sê hy het talle veranderinge voorgestel aan die Stad Johannesburg se konsepbegroting vir die 2025/2026-boekjaar, en gaan nie die huidige een ondersteun nie. Cor Boer van die party sê hulle het tydens ‘n vergadering met die burgemeester, Dada Morero, voorgestel eiendomsbelasting word nie verhoog nie en tariefverhogings vir sanitasie en vullisverwydering word tot 4,6-persent beperk. Hy sê hulle stel ook voor dat kapitale besteding op waterinfrastruktuur verhoog word:
# Die Israelse weermag het nou erken dat hy verlede maand verantwoordelik was vir die dood van ʼn werker van die Verenigde Nasies in ʼn aanval op ʼn VN-gastehuis in Gaza. Die Bulgaarse VN-werker Marin Valev Marinov is in die aanval dood en ses ander beseer. Die Israelse weermag sê volgens sy voorlopige ondersoek na die voorval is die VN-werker dood omdat sy soldate onder die indruk was die vyand skuil in die gebou. Hy het sy berou oor die ernstige voorval uitgespreek.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, was ʼn stel agter, maar het teruggeveg en die Filippynse tiener, Alexandra Eala, in die Madrid Ope se tweede ronde verslaan. Die Amerikaner Coco Gauff is ook deur na die derde ronde nadat sy met Dayana Yastremska van Oekraïne afgereken het. Die Stuttgart-kampioen, Jelena Ostapenko, het ʼn skokkende nederlaag teen die Letlander Anastasija Sevastova gely. In die mansafdeling is die Brit, Cameron Norrie, Kei Nishikori van Japan en die Duitser Jan-Lennard Struff almal deur na die tweede ronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 21-rand-35-sent teen die euro en 25-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-185-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-347-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….