Nuus 08:00
BULLETIN 24 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA bevestig sy BTW-gesprek met minister Godongwana
# Action Society eis die terugtrekking van die sekuriteitsregulasies
# En Israel voer ’n reeks lugaanvalle in Gaza uit
# Die DA het bevestig dat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se prokureurs die party genader het om buite die hof te skik. Dit hou verband met die DA se aansoek in die Hooggeregshof om ‘n interdik te kry teen die BTW-verhoging. Godongwana het intussen in ʼn verklaring gesê hy het besluit om die BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte terug te trek. Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, sê hulle vergader vandag met ʼn hoëvlak-ANC-afvaardiging:
# Action Society dring aan op die onmiddellike herroeping van die voorgestelde wysigings aan regulasies vir privaat sekerheid, en waarsku dat dit openbare veiligheid ernstig in gevaar kan stel. Hulle voer aan dat die konsepregulasies noodsaaklike sekerheidsdienste sal verswak, veral in hoë-misdaadgebiede waar die polisie dikwels onderbeman en onderbefonds is. Die organisasie se woordvoerder, Juanita du Preez, sê dit is onaanvaarbaar om taktiese eenhede te ontwapen wat dikwels op gewelddadige misdade en geslagsgeweld reageer:
# Die ANC in Gauteng het kommer uitgespreek nadat nog ʼn brand gister by die Tembisa Provinsiale Tersiêre Hospitaal uitgebreek het, dié keer in die afdeling vir buitepasiënte. Dit volg nadat die hospitaal se pas opgeknapte ongevalle- en noodeenheid Saterdag in vlamme opgegaan het. Die hospitaal bly ʼn misdaadtoneel terwyl forensiese spanne deur die puin werk om die oorsake van die twee afsonderlike brande te bepaal. Die ANC sê al die betrokke owerhede en instellings moet onverwyld deeglik ondersoek instel na die klaarblyklike patrone waarvolgens hierdie brande uitbreek.
# Israel het gister in verskeie gebiede in Gaza aanvalle uitgevoer waarin 25 mense dood is. Dit sluit elf in by ʼn skool in al-Tuffah waar ontheemde mense geskuil het. Israelse amptenare sê Hamas-vegters en hul bondgenote kruip agter burgerlike infrastruktuur weg, maar die Palestynse militante groep ontken dit. Israel het sy lug- en grondveldtog hernu sedert ʼn skietstilstand van twee maande en ʼn uitruiling van gyselaars en gevangenes, in middel-Maart verbreek is. Meer as 51-duisend-300 Palestyne is volgens berigte dood in Israelse wraakaanvalle ná Hamas se aanval op 7 Oktober 2023.
# Krieket: Rohit Sharma het die Mumbai Indians gehelp om die Sunrisers Hyderabad met sewe paaltjies te verslaan in hul vierde agtereenvolgende oorwinning in die Indiese Premierliga. Trent Boult het vier paaltjies platgetrek en Sunrisers is tot 143 vir agt beperk. In antwoord daarop het Sharma 70 van 46 balle behaal en Mumbai het die oorwinning in 15 boulbeurte en vier balle behaal. Hulle is nou derde op die punteleer, terwyl Sunrisers steeds negende is nadat hulle twee gewen maar ses van hul agt wedstryde verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 21-rand-16-sent teen die euro en 24-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-en-221-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….