Nuus 08:00
BULLETIN 23 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Polisiekommissaris sê daar is genoeg hulpbronne toegewys om die uitvoerende gesag te beskerm
# Die VF Plus sê kultuurgemeenskappe soos Kleinfontein moet erken word
# En ten minste 26 mense is dood in ‘n vermoedelike terreuraanval in Indië
# Die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê die land se uitvoerende gesag, insluitend die president en adjunkpresident, is in veilige hande. Dit volg nadat hy amptelik bevestig het daar is op adjunkpresident Paul Mashatile se motorkade geskiet nadat hy verlede maand ‘n ANC-vergadering in Boksburg bygewoon het. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê ʼn uitgebreide ondersoek na die voorval is steeds aan die gang en die ballistiese verslag is reeds afgehandel:
# Die EFF het dit verwelkom dat die parlementêre staande komitee oor bewilligings die aanvaarding van die verslag oor die Wetsontwerp oor die Verdeling van Inkomste uitgestel het. Dit volg ná die party se voorstelle oor wysigings aan die wetsontwerp. Die EFF sê die belangrikste voorstel is om die toekenning aan plaaslike regering van 9,5-persent tot 14-persent van rentevrye uitgawes te verhoog. Hy sê die aanpassing vereis dat bestaande uitgawes heroorweeg word en wegbeweeg van verkwistende en nienoodsaaklike programme in nasionale en provinsiale departemente.
# Die Vryheidsfront Plus sê die MK-party se besoek aan Kleinfontein naby Pretoria plaas weer die kollig op kultuurgemeenskappe en hul reg op bestaan in Suid-Afrika. Die Hooggeregshof in Pretoria het die wit, Afrikaanse dorpie verlede jaar onwettig verklaar op grond van die Stad Tshwane se munisipale soneringsregulasies. Jaco Mulder van die VF Plus sê kultuurgemeenskappe soos Kleinfontein, Orania en die Zoeloe-kultuurgemeenskap weerspieël Suid-Afrika se werklikheid:
# Minstens 26 mense is dood nadat vermeende militante op vakansiegangers in Baisaran-vallei, ʼn skilderagtige dorp in Pahalgam, Indië, losgebrand het. Dis nog nie bekend of daar buitelanders onder die slagoffers is nie. Indië se eerste minister, Narendra Modi, veroordeel die aanval en sê hulle is vasbeslote om terrorisme te beveg en sal hul pogings selfs verskerp. President Donald Trump van Amerika, Russiese president Vladimir Putin, en die Europese Unie se hoof, Ursula Von der Leyen, is onder die leiers wat die vermeende terreuraanval veroordeel het.
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Naomi Osaka, is in die Madrid Ope se eerste ronde uitgeskakel toe die Italianer, Lucia Bronzetti, haar verslaan het. Dit was die gewese wêreld-nommer-een van Japan se eerste wedstryd sedert sy in die vierde ronde van die Miami Ope verloor het. Die Britse nommer-een, Katie Boulter, het haar eerste kleibaanoorwinning op ʼn WTA-toer gebuit toe sy Katerina Siniakova van Tsjeggië afgeransel het om die tweede ronde te haal. Ander wenners was Sorana Cirstea van Roemenië en Yuliia Starodubtseva van Oekraïne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 21-rand-15-sent teen die euro en 24-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-en-881-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….