Nuus 08:00
BULLETIN 3 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se herbouwerk begin in die eerste kwartaal vanjaar
# Sasco is bekommerd oor NSFAS-toelae vir dié akademiese jaar
# En, vyf lande is nou amptelik lede van BRICS
# Die Parlement sê herbouwerk aan geboue wat in 2022 deur die brand geraak is, sal vanjaar in die eerste kwartaal begin en behoort teen die einde van volgende jaar voltooi te wees. Dit was gister twee jaar sedert ‘n brand die gebou van die Nasionale Vergadering verwoes het. Dit sluit die saal en honderde kantore in. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê elke Suid-Afrikaner sal geleentheid kry om hul mening te gee en by te dra tot die besluitnemingsproses wat die ontwerp en funksionaliteit van hulle Parlement betref:
# Die president van die studenteorganisasie Sasco, Vezinhlanhla Simelane, sê hulle het nie veel vertroue dat die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente betyds toelaes vir hierdie akademiese jaar aan begunstigdes sal betaal nie. Die skema het bevestig meer as 20-duisend toelaes moet nog vir die 2023 akademiese jaar afgehandel word. Simelane het aan Newzroom Afrika gesê NSFAS was veronderstel om universiteite te versoek om daardie studente te help:
# Egipte, Ethiopië, Iran, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate is nou amptelik volle lede van BRICS. Hulle lidmaatskap het op 1 Januarie amptelik geword na Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika by die 2023 BRICS-spitsberaad in Suid-Afrika daartoe ingestem het. Rusland is in 2024 die voorsitter van BRICS en die Russiese president Vladimir Putin sê hulle gaan nie enige moeite ontsien om ‘n harmonieuse integrasie van die nuwe lede te verseker nie. Putin het nie die 2023-beraad in Suid-Afrika bygewoon nie weens die Internasionale Strafhof se lasbrief vir sy inhegtenisneming oor aanklagte van oorlogsmisdade in Oekraïne.
# Krieket: Die kolwer David Bedingham hoop om sy toetsloopbaan môre in die tweede en laaste wedstryd op Nuweland in Kaapstad voort te sit nadat hy verlede week ʼn indrukwekkende toetsdebuut vir Suid-Afrika teen Indië gemaak het. Die 29-jarige speler het 56 in die eerste toets in Centurion aangeteken toe die Proteas Indië binne drie dae met ʼn beurt geklop het. Bedingham speel sedert 2020 Engelse graafskapskrieket vir Durham, maar het in Kaapstad grootgeword. Hy sê dit sal baie spesiaal wees indien hy môre op Nuweland speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-150-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-65-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-85-sent per vat.
# En, ten slotte: Inwoners en besoekers in Kaapstad het gister in hulle duisende opgeruk om die ikoniese Kaapse Klopse-karnaval te ondersteun. Die geleentheid het in Distrik Ses begin waar duisende gillende en skreeuende mense saam met die Klopse gedans het. Die feestelikheid het in koloniale tye ontstaan toe slawe die dag na Nuwejaarsdag kon ontspan. Dit word nou beskou as ʼn viering van die Kaap se diverse kultuur en is die begin van ʼn kompetisie waar Klopse meeding vir die titel van beste dans- en musiekgroep.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….