Nuus 08:00
BULLETIN 17 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering veroordeel die voortdurende aanvalle op burgerlike teikens in Gaza
# Die Hooggeregshof stel Transnet se kontrak vir diesellokomotiewe tersyde
# En ‘n regter vind waarskynlike regsgronde om Trump se amptenare van minagting aan te kla
# Die Suid-Afrikaanse regering het die aanvalle op burgerlike teikens in Gaza veroordeel. In die jongste voorval het Israel ‘n missielaanval uitgevoer op die al-Ahli Arab-hospitaal in Gaza Stad. Die hospitaal se intensiewesorg- en operasie-departement is in die aanval vernietig. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê Israel het sedert die begin van die oorlog in Oktober 2023 minstens 35 hospitale in Gaza gebombardeer, afgebrand en verwoes. Hy sê dis ʼn oortreding van die internasionale humanitêre reg:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die 2014-kontrak tussen Transnet en Wabtec South Africa Technologies tersyde gestel. Dit hou verband met die verkryging van 233 diesellokomotiewe ter waarde van agt-miljard-rand. Die hof het die 2014-verkrygingsooreenkoms en gepaardgaande subkontrakte ongeldig verklaar. As deel van die skikkingsooreenkoms sal Transnet die 233 diesellokomotiewe behou wat Wabtec gelewer het. Wabtec sal al die betalings wat hy volgens die kontrak ontvang het, behou terwyl Transnet 70,35-miljoen-rand sal ontvang.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het agt G4S-beamptes, insluitend die direkteur van operasies, geskors nadat ʼn gevangene verlede maand tydens ʼn klopjag by die Mangaung Korrektiewe Sentrum in Bloemfontein dood is. Mangaung-amptenare sê Mpho Makhubeni het ʼn asma-aanval gehad. Die lykskouing het egter getoon hy het beserings gehad wat met ʼn stomp voorwerp toegedien is, en deur inaseming van pepersproei vererger is. Die kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, sê G4S-personeel het Makhubeni aangerand:
# ‘n Amerikaanse federale regter, James Boasberg het beslis daar is waarskynlike regsgronde waarvolgens president Donald Trump se administrasie van strafregtelike minagting aangekla kan word. Dit is vir die skending van die hofbevel om gebruik van die Wet op Vreemdelinge te staak vir die deportasie van meer as 200 beweerde bendelede van Venezuela. Die 227-jaar oue wet is bedoel om Amerika tydens oorlogstye te beskerm om massa-deportasies uit te voer. Boasberg sê senior Trump-amptenare kan óf die mense terugbring wat deur sy bevel beskerm is, óf aangekla word.
# Sokker: Arsenal is die eerste keer sedert 2009, en die derde keer in die geskiedenis, deur na die Kampioeneliga se halfeindronde nadat hulle Real Madrid afgeransel het. Die Gunners het in die kwarteindronde se tweede kragmeting met 3-0 voorgeloop voordat hulle by die Bernabeu met 2-1 gewen, en met ʼn totaal van 5-1 geseëvier het. Inter Milan het intussen by die San Siro vir Bayern Munich in totaal met 4-3 verslaan nadat hulle in die tweede kragmeting met 2-elk gelykop was. In die halfeindronde is dit Arsenal teen PSG, en Milan teen Barcelona.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 21-rand-42-sent teen die euro en 24-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-884-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-342-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….