Nuus 08:00
BULLETIN 16 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering vergader met universiteite oor die uitwerking van die Amerikaanse tariewe
# Walter Sisulu sê die persoon wat tydens betogings doodgeskiet is, was nie ‘n student of ‘n personeellid nie
# En Joe Biden kritiseer Donald Trump se pogings om Maatskaplike Sekerheid te sny
# Die regering het gister met universiteite se visekanseliers vergader om die uitwerking van Amerikaanse uitvoerende bevele en tariewe op universiteite en veral befondsing vir navorsing te bespreek. Die vergadering is gelei deur die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, en die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane. Die regering se woordvoerder, David Jacobs, sê die adjunkminister van Finansies, David Masondo, het die vergadering ingelig oor belangrike verwikkelings in die 2025 nasionale begroting en voorgestelde toekennings om die hoër-onderwyssektor te ondersteun:
# Transnet sê hy verwelkom die besluit van die Verenigde Nasionale Vervoervakbond om sy lede te vra vir ‘n stemming want dit sal ‘n ware weerspieëling wees van werknemers se wense. Die vakbond gaan sy lede nader om te stem oor ‘n stakingsproses na loononderhandelings met die staatsinstelling Maandag op ‘n dooiepunt uitgeloop het. Transnet sê die finale aanbod van ‘n ses-persent verhoging in die eerste en tweede jaar en ‘n 5,5-persent verhoging in die derde jaar is ‘n erkenning dat werksekerheid noodsaaklik is vir werknemerswelstand en langtermyn bestendigheid.
# Die Walter Sisulu-universiteit sê die persoon wat Dinsdag tydens die betogings op die Mthatha-kampus in die Oos-Kaap doodgeskiet is, was nie ‘n geregistreerde student of ‘n personeellid by die instelling nie. Die persoon is na bewering deur die universiteit se koshuisbestuurder geskiet en twee studente is gewond. Ndiyakholwa Ngqulu van die WSU het aan Newzroom Afrika gesê die owerhede probeer vasstel wie die oorledene is en die rede vir sy of haar betrokkenheid by die voorval:
# Oudpresident Joe Biden sê in minder as 100 dae het sy opvolger, Donald Trump, se administrasie groot skade aangerig. Hy het gister die nasionale konferensie van advokate, raadslede en verteenwoordigers vir gestremdes in Chicago bygewoon. Dit was sy eerste toespraak sedert hy nie meer president is nie. Biden kritiseer die huidige administrasie se poging om Maatskaplike Sekerheid te besnoei en sê die skade wat die Withuis aan die program veroorsaak, is vernietigend. Meer as 70-miljoen Amerikaners maak maandeliks op die toelae staat:
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Carlos Alcaraz is deur na die Barcelona Ope se ronde van 16. Die 21-jarige Spanjaard het die Amerikaanse kwalifiseerder, Ethan Quinn geklop om sy wenlopie in die toernooi tot elf uit te brei. Die verdedigende kampioen en wêreld-nommer-tien van Noorweë, Casper Ruud, het die Colombiaan, Daniel Elahi Galan verslaan terwyl verlede jaar se naaswenner, Stefanos Tsitsipas van Griekeland met die Amerikaner Reilly Opelka afgereken het. Karen Khachanov van Rusland het die Brit, Cameron Norrie getroef.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 21-rand-57-sent teen die euro en 25-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-897-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-273-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….