Nuus 08:00
BULLETIN 14 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die begrotingsdooiepunt kan nie deur een politieke party opgelos word nie
# Minister Tau word gedagvaar oor sy versuim om ‘n datum vir ‘n nuwe loterylisensie te verskaf
# En Donald Trump waarsku die tariefvrystelling op hoë-tegnologie produkte uit China sal van korte duur wees
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê hulle sal hierdie week ‘n ooreenkoms uitwerk met al die partye wat saamstem om die begrotingdooiepunt te verbreek. Die ANC het met alle partye binne en buite die regering van nasionale eenheid beraadslaag om ʼn oplossing vir die dooiepunt te vind. Die BTW-verhoging is die grootste probleem. Mbalula het aan eNCA gesê die begrotingsdooiepunt kan nie meer net deur een party politieke opgelos word nie:
# Wina Njalo, ʼn projek van die HCI Foundation, het ʼn hofgeding teen die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, aanhangig gemaak om hom te dwing om ʼn nuwe lisensie vir die nasionale lotery uit te reik. Tau het onlangs ʼn teikendatum vir die aankondiging van ʼn nuwe bieër gestel, maar Wina Njalo sê die Hooggeregshof in Pretoria moet dit ʼn bevel maak. Wina Njalo beweer Tau vertraag die proses om die huidige lisensiehouer, Ithuba, se belange te bevorder.
# Die Wes-Kaapse polisie het ʼn 35-jarige vrou in hegtenis geneem in verband met ʼn skietvoorval Dinsdag by die Wynberg-landdroshof. Taxi-eienaar Dingalomoya Cintso is in die hof doodgeskiet. Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag was die 50-jarige man ʼn beskuldigde in ʼn strafregtelike saak. Die polisiewoordvoerder, Novela Potelwa, sê die verdagte al na verwagting vandag in die hof verskyn:
# President Donald Trump van Amerika waarsku niemand gaan loskom weens onregverdige handelsbalanse nie en sê China kan verdere tariewe verwag. Dit volg nadat die Withuis Vrydag hoëtegnologie-produkte uit China van invoerbelasting vrygestel het. Trump sê in ʼn inskrywing op Truth Social, hierdie produkte sal steeds onderworpe wees aan die bestaande fentaniel-tariewe van 20-persent. Hy voeg by Amerika sal nie gyselaar gehou word deur vyandige handelslande soos China nie.
# Gholf: Die wêreld se nommer twee, Rory McIlroy, het Justin Rose van Engeland in ʼn uitspeelronde geklop om die Meesters by Augusta National in Georgia te wen en sy loopbaan-Grand Slam te behaal. Die Noord-Ierse speler het ʼn voëltjie op die eerste putjie van die valbylronde aangeteken om sy vyfde Major op te raap en slegs die sesde gholfspeler te word wat met ʼn loopbaan-Grand Slam kan spog. Die verdedigende kampioen, Scottie Scheffler van Amerika, is vierde. McIlroy sê hy is geëerd en trots:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 21-rand-65-sent teen die euro en 24-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-662-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-232-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….